Die voormalige hoof van korporatiewe kommunikasie by die Parow-polisiekantoor, wat twee jaar gelede die tuig ná byna vier dekades neergelê het, tree deesdae op as kapelaan.
Dr. Kevin Williams (62), ‘n voormalige kaptein in die polisie, moes vir jare nuus oor misdaad in die Parow-gebied aan die media oordra, maar nou deel hy nuus van ‘n meer inspirerende aard met die gemeenskap. As kapelaan werk hy nou met die polisie en organisasies soos die Voortrekkerweg-korridorverbeteringsdistrik (VRCID) met gemeenskapsontwikkeling.
Daarbenewens bied hy ook ‘n weeklikse intervensieprogram aan op Donderdae by die Shofar-kerk in Bellville. Voormalige dwelmverslaafdes en mense wat in nagskuilings bly wat hul lewe wil transformeer, woon die 10 weke-kursus by, sê hy.
Williams sê ná sy uitrede uit die polisie het hy vrywillig motiveringspraatjies op versoek van die VRCID aangebied. Dis ook waar die idee vir sy intervensieprogram posgevat het.
“My kursus getiteld ‘Pigsty to palace’ het ek op versoek van die VRCID voorgelê en uit dié versoek sodoende my 10 weke-program begin. Die mikpunt is die transformasie en herstel van gebroke mense,” sê hy.
Hul finale program vind op Donderdag 16 Oktober plaas. “By ons laaste aanbieding gaan elke deelnemer ‘n sertifikaat van Project Joseph SA ontvang vir die voltooiing van die kursus,” sê hy.
Williams is sedert 2024 amptelik ‘n kapelaan, nadat hy die kursus verlede jaar voltooi het. Hy is tans lid van die Association of Certified Chaplains of South Africa, waarvan die hoofkantoor in Mosselbaai in die Suid-Kaap gesetel is.
In ‘n onderhoud in 2023 het hy aan TygerBurger genoem dat sy geloof in die Here en sy betrokkenheid in die gemeenskap twee groot bydraende faktore was vir sy jare lange loopbaan in die polisie.
Vroeër is daar ook berig oor sy stryd teen bloedkanker, wat in 2019 by hom gediagnoseer is. Hy is in 2020 kankervry verklaar.


