Sedert sy ontstaan in 2018 het HOOP, die welsynsprojek van Bok Radio, gegroei van ’n klein inisiatief tot ’n stewige en onmiskenbare steunpilaar in die gemeenskap.
Met die viering van sy sewende bestaansjaar Vrydag het dié Brackenfellse liefdadigheidsorganisasie sewe verrassingsdonasies van R10 000 elk aan plaaslike nie-winsgewende groepe in die noordelike voorstede van Kaapstad geskenk.
Hulle was die Alta du Toit Sentrum in Bellville vir mense met intellektuele gestremdhede, die AGS Sarepta-tehuis vir bejaardes in Kuilsrivier, Huis Jabes vir mishandelde vroue, ook in Bellville, Andries Olivier-sentrum vir kwadrupleë in Durbanville, Jesus in Aksie- groentetuin en voedselstoor in Brackenfell, die Carel du Toit-sentrum vir gehoorgestremdes in Parow en die diereskuiling Bella’s Guardian Angels in Kraaifontein.
Die tjeks is oorhandig op ’n verjaarsdagpartytjie wat Vrydagoggend op HOOP se perseel in Okavango Park gehou is.
Wilinda Ford, projekbestuurder van HOOP, het vertel hoe die organisasie oor die jare van krag tot krag gegaan het.
“HOOP is in 2018 deur Wimpie en Le Lue van der Sandt gestig as Bok Radio se gemeenskapsprojek om minderbevoorregte mense in die noordelike voorstede van Kaapstad te ondersteun. Skaars op ons voete moes ons die uitdagings van die Covid-19-pandemie oorleef, maar het ook sterker as ooit tevore uit die tydperk van onsekerheid en swaarkry gekom.
“Dit is ’n ongelooflike reis wat ons saam meegemaak het,” sê sy met trots. “Ons het sewe jaar gelede begin met ’n klein groepie mense en ’n groot droom om mense te help, en vandag is ons nie net in staat om mense te ondersteun nie, maar ons kan ander organisasies ook seën met die donasies wat ons ontvang.”
Ford het die geleentheid gebruik om haar opregte dank aan al die vrywilligers en donateurs te betuig wat die werk van die organisasie moontlik gemaak het, sowel as Wimpie van der Sandt, besturende direkteur van Bok Radio, vir sy deurlopende ondersteuning.
“Ons vrywilligers het ’n onmisbare rol gespeel in ons groei en sukses. Hulle het nie net tyd en moeite geskenk nie, maar hul harte vir die doel gegee,” het Ford gesê.
“Ons donateurs se deernis het ons in staat gestel om nie net direk vir diegene in die gemeenskap wat dit nodig het te sorg nie, maar ook ander organisasies te ondersteun.”
Maak ’n verskil
Die skenkings maak ’n enorme verskil aan elkeen van die organisasies wat verheug is oor die gate wat hulle hiermee gaan toestop.
“Ons het dit glad nie verwag nie. Julle inspireer ons,” sê Ettienne Pio, direkteur van Jesus In Aksie wat die geld gaan gebruik om nuwe sade aan te plant in die groentetuine by die Brackenfell-treinstasie, wat voedselpakkies voorsien.
Nicola Kruger van Bella’s Guardian Angels sê die donasie sal hulle in staat stel om die diereskuiling se heining te herstel en ’n gedeelte van hul veeartsrekening te delg.
“Ons onkostes hou nooit op nie. Ons het altyd kos nodig vir die diere en die veeartsrekeninge kom gereeld,” sê sy.
By die Andries Olivier-sentrum is daar tans 13 inwoners, almal kwadrupleë wat self die tehuis bestuur en geld insamel.
Volgens Jean van der Merwe, een van die inwoners, het die tehuis maandeliks ’n tekort van R25 000 as gevolg van ’n gebrek aan subsidies.
Ook die Sarepta-tehuis vir bejaardes het die donasie broodnodig om die lewe makliker te maak vir die 136 nie-selfversorgende bejaardes wat daar tuisgaan. “Die verf in ons kombuis dop af en daar was nie geld om dit oor te verf nie. Ons kan nou ons kombuis pragtig nuut uitverf,” sê die tehuismatrone, Maxie Herbst.
Adri Klindt, stigter van Huis Jabes, sê die tehuis het pas baie nuwe inwoners gekry, waarvan een ’n twee weke oue baba.
“Ons het babadoeke en melk nodig, sowel as nuwe klere vir die kinders wat tans by ons tuisgaan.”
Die tehuis beplan ook om nuwe beddegoed aan te koop vir die kamers.
Johan Jacobs van die Alta du Toit-sentrum sê die sentrum is geseënd met die groot donasie ten bate van die baie behoeftes van hul inwoners en dagbesoekers.
Die skenkings sal nie net noodsaaklike hulpbronne voorsien nie, maar ook hoop en inspirasie bring soos mooi opgesom in HOOP se leuse van “Daar is altyd hoop vir môre”.
Rig navrae aan hoop@bokradio.co.za.