Niemand kan gewapende roof keer nie en dit kan net gestop word as daar minder kontant op persele gehou word. Dit het nou tyd geword dat banke moet instem dat alle transaksies met ’n bankkaart gedoen kan word om gewapende roof uit te skakel.
Dis hoe Ruaan Liebenberg, besturende direkteur van Joey’s Vleisprodukte, voel nadat hulle op Dinsdag 18 Oktober die tweede keer beroof is. Hulle is ook op 16 Desember verlede jaar beroof.
“Die les wat ander ondernemings uit ons voorval kan leer, is dat rowers bewus is dat jy kontant op jou perseel het en daarom word jy geteiken. Mense moet ook meer bewus raak dat kontant deesdae nie meer die manier is om handel te dryf nie. Banke moet liewer die kaarfooie kanselleer, want kontant op ’n perseel kan dalk in die toekoms menselewens eis. Ons was gelukkig dat niemand in die voorval beseer is nie, en dat net twee selfone, ’n handsak en ’n onbepaalde bedrag geld geroof is,” het Liebenberg gesê.
“Deesdae beteken jou lewe baie min en as jy ’n voertuig met vier of meer mans in jou straat of voor jou onderneming sien, moet jy besef dis nie normaal nie. Ons leer ons kassiere om nie helde te probeer wees wanneer ’n rooftog plaasvind nie. Staan weg van die kasregister, gee wat die rowers jou vra en geen lewens sal geëis word nie.
“Ek wil namens Joey’s Vleisprodukte verskoning vra aan my personeel en die twee klante wat tydens die rooftog in die slaghuis was en vir die trauma waardeer hulle is. Die ernstige situasie is ontlont toe Lorraine Fieldhouse nog steeds haar drie pakke wors wou saamvat, voordat sy die slaghuis verlaat het. Die ander klant was bekommerd oor haar kinders in haar motor en het net gehoop die rowers jaag nie met haar motor weg nie, want haar handsak en motorsleutels is deur die rowers gebuit,” het Liebenberg afgesluit.