Daar gaan steeds ’n manier wees om oor die N1 by Old Oak in die noordelike voorstede van Kaapstad te ry as die Old Oak-brug volgende week gesloop word.
“Mense let nie op waaroor hulle elke dag ry nie,” het Taki Amira, raadslid in dié omgewing aan TygerBurger gesê.
Kaapenaars het vies en verwoed na ander roetes begin soek nadat dit aangekondig is dat die Old Oak-brug oor die N1 gesloop gaan word.
Amira het verduidelik dat die Old Oak-brug eintlik uit twee brûe bestaan – een wat wes gaan en een wat oos gaan.
Die ouer een, die een wat wes gaan, is die een wat gesloop gaan word.
“As jy onder dit ry, kan jy nog die ou pilare sien.”
Die Wes-Kaapse departement van dervoer en openbare werke het in 2016 met ‘n multimoenrandse opgradering van die N1 begin. As deel hiervan gaan die N1 ‘n derde baan in albei rigtings kry. Die ouer brug is al in 1963 gebou en het nie voorsiening vir nog bane gemaak nie.
Terwyl daar ’n nuwe brug gebou word, gaan die oostelike brug ’n tweerigting-pad word.
Die bou van hierdie brug gaan ongeveer 18 maande duur.
Die N1 gaan steeds vanaf Vrydag om 19:00 tot Maandagoggend 05:00 vir die sloping gesluit wees.