Die operasies wat in Smile-week by die Tygerberg-hospitaal uitgevoer is, verryk lewens.
Dit gee aan kinders wat andersins sku was weens hul mediese toestand selfvertroue, en hoop aan die ouers wat hulle moet lief hê en versorg.
Dit is ook die verhaal wat André Daniels (10) van Van Wyksvlei in Wellington nou kan vertel ná sy operasie waarvoor hy jare moes wag, vertel sy ma, Catherine Daniels (46).
Crouzon se sindroom is op vyf jaar by André gediagnoseer. Die sindroom is ’n genetiese afwyking, gekenmerk deur die voortydige samesmelting van sekere skedelbene.
Diagnose
“Ek het normaal lewe geskenk, maar in die hospitaal het hulle niks agtergekom nie. Met sy derde verjaarsdag het ek opgemerk daar is ’n verandering aan sy gesig.
“Ek het hom na ’n private dokter geneem en hy het vir my gesê dis normaal, en dat dit (sy skedel) sal toegroei, maar dit het nooit toegegroei nie.
“Op vyf jaar het ek ’n ander dokter besoek en hulle het my na ’n private hospitaal verwys waar hulle my ingelig het oor sy toestand, dat hy Crouzon se sindroom het. Ek het nie geweet wat dit is nie, maar die dokter het vir my verduidelik,” het Catherine verlede week aan TygerBurger by die Tygerberg-hospitaal se onkologie-eenheid gesê.
Hulle het ingestem dat ’n operasie kan plaasvind, maar moes vyf jaar daarvoor wag. Die operasie is uiteindelik verlede week uitgevoer. “Hy het ’n datum gekry, en ons het net dankie gesê aan die Here.”
André, ’n graad 4-leerder aan die Laerskool Elnor in Elsiesrivier, is Dinsdag 14 November geopereer.
Sy ma was senuweeagtig, maar het geglo dat die operasie suksesvol sou wees.
Volgens Catherine het die mediese toestand André se skoolloopbaan negatief geraak.
“Sy skoolwerk het baie agteruit gegaan, veral vanjaar. Hy weet wat aangaan, en hy het vrede gemaak daarmee.
“Ja, die kinders spot hom; hy huil partymaal en daar was ook ’n tyd toe hy nie meer skool toe wou gaan nie, en dan moes ek hom moed inpraat, maar hy het vrede gemaak.
“Hy was egter baie opgewonde oor die operasie, en het aanhoudend gevra wanneer dit gaan gebeur. Ek het vir hom gesê om geduldig te wees; dit sal gebeur.”
Sy het gesê André is ’n liefdevolle kind – baie spelerig en soms ook ’n grapjas. “Hy is ’n baie liefdevolle seun; hy maak my dag, elke dag.”
Ondersteuning
Smile Week, ’n jaarlikse gebeurtenis, is ’n inisiatief van die Smile-stigting.
Moira Gerszt, die Smile-stigting se direkteur vir strategiese-verhoudings, het aan TygerBurger gesê die stigting ondersteun die departement van klassieke en rekonstruktiewe-chirurgie in akademiese hospitale. Die Tygerberg-hospitaal is een van die hospitale waar dokters wat plastiese chirurgie aan die Stellenbosch Universiteit studeer hul opleiding ontvang.
“Daar is ’n nood in die land vir sulke operasies, en die regering maak staat op nie-regeringsorganisasies om sulke inisiatiewe te ondersteun,” het sy gesê.
Die stigting is in 2000 op die been gebring.
Kinders met gesplete lippe of verhemeltes, wie se ouers nie noodwendig ’n operasie kan bekostig nie, word tydens die week geopereer. Die kinders word deur dokters na die hospitaal vir behandeling verwys.
“Dis ’n hartsverblydende projek, want die mammas sien daar is ander mammas wat ook ’n kind het wat soortgelyk aan hul kind lyk.
“Hulle kan saamwerk, en daar is ook ondersteuningsgroepe in verskeie tale reg oor die land vir sulke mammas,” het Gerszt gesê.