Oorlog oor nuwe naam vir Hoërskool DF Malan nie verby

Die veldslag was dalk tydelik gewen, maar die oorlog rondom die naamsverandering van die Hoërskool DF Malan is nog nie verby nie.


Die veldslag was dalk tydelik gewen, maar die oorlog rondom die naamsverandering van die Hoërskool DF Malan is nog nie verby nie.

Die applikante het ’n aansoek om verlof tot appèl ingedien nadat die Wes-Kaapse Hooggeregshof byna ’n maand gelede beslis het die proses om die naam te verander, was deursigtig. Die applikante, wat onder die naam Trots DF Malan op Facebook en ander plekke bekend staan, het die aansoek verlede week ingedien.

Agtergrond

Die hofsaak sentreer rondom die skool se besluit om die naam te verander. Dit kom na jare se toenemende druk omdat die skool na die politikus en oud-eerste minister DF Malan genoem is. Malan is onder meer bekend vir sy rol in die instelling van apartheid.

Die beheerliggaam het met die proses begin om die naam te verander en het toe die hulp van onder andere dr. Frederick Marais ingeroep om hiermee te help.

Buiten konsultasies met belangegroepe, het die skool ook leerders, ouers en alumni die kans gegee om oor opsies vir ’n naam te besluit.

Die grootste meerderheid het die naam DF Akademie gekies.

Die groep Trots DF het ook tydens dié tydperk ontstaan en kort voor lank sterk kapsie gemaak oor die proses wat gevolg is om die naam te verander en die hof daaroor genader.

Trots DF Malan het in hofdokumente aangevoer die besluit was nie deursigtig nie en almal het nie ’n kans gehad om insette oor die naam te lewer nie, en die beheerliggaam het sy magte oorskry toe hy die naam wou verander.

Regter Robert Henney het egter nie saamgestem nie en op 17 Oktober die aansoek met koste van die hand gewys.

Deursigtig

Hy het onder meer bevind die skool het reg opgetree deur van Marais se dienste gebruik te maak en dat die proses deursigtig was.

In die verlof tot appèl sê Trots DF Malan die hof se beslissing is verkeerd om ’n paar redes, onder meer deur te sê die beheerliggaam is by magte om so ’n verandering te maak.

Hulle voer ook aan die hof was verkeerd deur te sê hulle het reg en deursigtig opgetree deur Marais se voorstelle te volg. Hulle maak ook kapsie teen die hof se beslissing dat die beheerliggaam nie wyer met ander in die proses oor die verandering hoef te gekonsulteer het nie.

In Henney se uitspraak het hy gesê party van die applikante, of lede van Trots DF Malan, wil die “apartheid regime betreur”. Hierdie is nog ’n foutiewe beslissing deur die hof, sê Trots DF Malan.

Verder voer hulle aan die kostebevel, wat eis dat hulle die beheerliggaam se regskoste moet betaal, is onregverdig.

You need to be Logged In to leave a comment.