Die oorgroeide grond in Jagtershof, wat veral vir die inwoners van Foxhoundstraat slapelose nagte besorg, geniet nou “prioriteit”, volgens die Stad Kaapstad.
TygerBurger het twee weke gelede weer oor die grond berig kort nadat ’n brand op 29 November in die bosse agter die grensmure van wonings in Foxhoundstraat gewoed het (“Brand is olie op vuur”, 06/12).
Die inwoners kla al geruime tyd oor veiligheidsrisiko’s weens die gebrek aan instandhouding van die oop grond.
’n Gedeelte van die Stad Kaapstad se grond (Erf ST235) is onderverdeel en hernoem na Erf 26151, wat geoormerk is vir die bou van twee skole. Die proses om die erf vir die skole aan die provinsiale regering oor te dra, sloer al maande en intussen was die Stad nie te gretig om dit in stand te hou nie (of te erken dat dit steeds sy verantwoordelikheid is nie.)
In die lig van begrotingsbesnoeiings het die onderwysdepartement gesê hy kan tans nie waarborg dat die konstruksie van die skole teen die middel van 2024 sal kan begin, soos wat David Maynier, die provinsiale onderwysminister, in November 2022 aangedui het nie.
Jandré Bakker, woordvoerder van die provinsiale departement van infrastruktuur, het vroeër vandeesmaand gesê die oordrag van die eiendom van die Stad na die provinsiale regering is nog nie afgehandel nie. “Die Stad Kaapstad is dus, as huidige geregistreerde eienaar van die eiendom, steeds verantwoordelik vir die instandhouding daarvan,” het Bakker gesê.
’n Navraag is kort voor die vorige berig se spertyd aan die Stad gestuur om te hoor of enige instandhouding binnekort op die groter erf gedoen sal word.
Theresa Uys, burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe dienste, het verlede week het geantwoord dat die Stad se afdeling gemoeid met instandhouding met die afdeling vir biodiversiteitsbestuur, wat ’n geskikte tender het om die nodige werk te kan doen, geskakel het.
Uys sê die terrein is as “prioriteit” gemerk en “as alles volgens plan verloop sal die werk middel Januarie begin”.
“Die werk behels die sny van die gras, die afsny van die Portjackson-bome sowel as die verwydering van rommel en gestorte materiaal van die terrein.”
Ulricke Europa, wat al langer as ’n jaar namens inwoners versoeke gerig het en wie se e-posse tussen Stads-departemente aangestuur is, het die vooruitsig effens skepties verwelkom. ‘Kom ons hoop en bid dat daar geen ernstige bedreigings tydens die feestyd sal wees nie.”