Wayne Richard Mathews (52) is geklasifiseer weerloos en hoogs afhanklik aan medikasie. Hy het grys-blou oë, swart-en-grys hare, is slank gebou en sowat 156 cm in lengte en weeg sowat 42,5 kg.        


Die gemeenskap se gebede is beantwoord toe die 52-jarige Wayne Richard Matthews veilig gevind is nadat hy op Sondag 26 Januarie omstreeks 18:00 in Voortrekkerweg, Bellville, deur sy gyselaars afgelaai is.

“Ek glo Wayne se terugkoms is grootliks te danke aan die opskudding in die gemeenskap, die verspreiding van inligting oor Wayne se verdwyning in die nuus en op sosiale media, en mense wat hom in hul gebede gedra het.”

Só sê lt.kol. Fienie Nimb, woordvoerder vir die Bellville-polisie.

Ontvoering en afpersing

Die polisie ondersoek tans sake van ontvoering en afpersing. Nog niemand is in hegtenis geneem nie.

“Daar kan geen besonderhede oor sy verdwyning verstrek word nie, aangesien die ondersoek nog in ’n baie sensitiewe fase is. Wat nou belangrik is, is dat hy veilig terug in die versorging van die Alta du Toit-nasorgsentrum is.”

Die Alta du Toit-sentrum omskryf die afgelope dae soos volg: “Wayne is teen sy sin vir ongeveer 72 uur aangehou. Ná ‘n deeglike ondersoek en die opvolg van leidrade het die polisie, saam met plaaslike gemeenskapsgroepe, gehelp om sy vrylating te fasiliteer.”

Matthews het verlede Donderdagmiddag (23 Februarie) byna spoorloos in Boston vermis geraak nadat na hy sy werksplek, die Pick n Pay-kruidenierswinkel, verlaat het om glo middagete te gaan eet.

LEES OOK | Weerlose man (52) van Alta du Toit-nasorgsentrum vermis

Kringtelevisiebeeldmateriaal in die gebied het gewys dat hy omstreeks 15:00 by ’n vreemde wit Volkswagen Jetta ingeklim het.

Die Bellville-polisie, Matthews se kollegas, personeel van die Alta du Toit-nasorgsentrum vir intellektueel gestremdes en die breër gemeenskap het die soektog na hom begin.

“Wayne is gyselaar gehou en ’n bedrag geld is geëis. Uiteindelik glo ek dat dit die druk van die gemeenskap se belangstelling oor sy verdwyning was, wat sy gyselaars moontlik genoop het om hom bloot op dié punt af te laai,” meen Nimb.

‘Verlore seun’ terug verwelkom

Hy was fisiek ongedeerd, aldus die sentrum se verklaring, “maar emosioneel geskok weens die trauma van die ervaring”.

“Die mediese en terapeutiese spanne van die sentrum werk saam met hom om sy vinnige herstel te verseker”.

Buiten die nare trauma waardeur Matthews die afgelope drie dae is, vertel Nimb: “Hy was doodhonger, doodmoeg en ongelooflik verlig.”

Sy prys die Alta du Toit-sentrum se personeel en mede-inwoners vir hul uitmuntende ontvangs van Matthews.

“Dit was besonder hartroerend om te sien hoe absoluut verheug elke liewe mens in daai tehuis was – van sy maats tot die ouer gemeenskap. Dit was soos die verlore seun wat teruggekom het huis toe. Die personeel is ook flink voorberei om Wayne terug in hul sorg te neem met ’n verpleegster en maatskaplike werker op bystand.”

Sy voeg by dat Matthews ’n gewilde en geliefde inwoner in die Bellville-gemeenskap is.

“Almal ken hom en sy dierbare hart. Hy is ook so sinoniem met die kruidenierswinkel. Sy verdwyning was selfs vir my ’n teer punt, aangesien ons al 25 jaar bevriend is. Hy is ook so lief vir die polisie – hy sal ons elke liewe oggend bel om ons voorspoed vir die dag toe te wens.”

Die Alta du Toit-sentrum sê ten slotte: “Ons is dankbaar vir Wayne se veilige terugkeer en bedank die publiek vir hul voortdurende ondersteuning en gebede gedurende hierdie moeilike tyd.”

You need to be Logged In to leave a comment.