Konstabel Fezile George Ham (38), die polisieman wat op gister (Donderdag 27 Oktober) op die Bellville-treinstasie gesterf het toe hy deur ’n trein doodgery is, het op 12 Januarie 2009 by die polisie aangesluit. Hy het sy SA Polisie-vlak 1-kursus aan die polisiekollege voltooi.
In Julie 2009 het hy ’n studente-konstabel geword en op 22 Januarie 2011 het hy as konstabel uitpasseer. Hy was daarna lid van die noodskof by Kaapstad Sentraal-polisiekantoor, waar hy die gemeenskap gedien het.
Ham is oorgeplaas na die Kaapstad-landdroshof in 2011 en toe weer op 14 Maart 2014 na die verlore goedere-afdeling by Kaapstad Sentraal-polisiekantoor waar hy tot sy dood gewerk het.
Kaptein Ezra October, woordvoerder van dié polisiekantoor, sê sy kollegas beskryf hom as ’n ware vriend, ’n man van sy woord, ’n man van integriteit en ’n trotse polisieman wat lief was vir sy werk.
“Hy het ’n borrelende persoonlikheid gehad en was altyd vrolik. Sy naam is aan hom gegee om die Here te bedank toe hy as vyfde kind gebore is.
“Ons sal hom ook onthou vir sy glimlag, vriendelike oggendgroet, dat hy ‘n betroubare motorbestuurder was en dat hy altyd bereid was om die ekstra myl vir almal te stap,” het October gesê.
Volgens October was Fezile lief daarvoor om sy uniform te dra en om deel te wees van die Wes-Kaapse Polisie-drilpeleton onder bevel van kaptein Shireen Steenkamp.
“Hy was lief om ’n bunny chow te eet en het enigeen vermaak wat hom daarvoor gevra het. Hy het vlugbal gespeel en het sy kinders verafgod. Hy was ook baie geliefd in die gemeenskap van Wallacedene en het altyd sy sitplek op die trein aan vroue afgestaan. Ons sal hom baie mis. Hamba Kakuhle, totsiens my vriend,” het October ten slotte gesê.
Die begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie, want onderhandelinge met sy familie is steeds aan die gang.