Eagan Matroos van Eersterivier, ’n onderwyser aan die Laerskool Palm Park, is een van twee senior rugbyspelers by die Van der Stel-Evergreens-rugbyklub wat Saterdag kospakkies aan twee o.10-spelers van die klub uitgedeel het.
Warren de Kock, ’n onderwysassistent by die Katolieke Skool in Koelenhof, is die ander speler.
“Ek het vanjaar by die klub aangesluit nadat ek deur die voorsitter genader is om te kom speel, maar die klub se sukses die afgelope drie jaar het my besluit makliker gemaak om my gewig by die klub in te gooi.
se Matroos.
Hy het die eerste keer van die uitdeel van die kospakkies by die klub tydens ’n spanoefening uitgevind en ook gesien dat een van die afrigters huiskos aan van die spelers uitdeel.
“Die meeste spelers kom direk van hul werk af na die oefening en toe ek sien hulle ontvang huiskos, het ek gedink dis ’n uitsonderlike idee, want daar word na ander behoeftes van die spelers ook omgesien. En die feit dat kospakkies aan die juniors uitgedeel word, is ook ’n diens wat aan die toekoms van die klub gelewer word. Dis juis die juniors wat die klub in die toekoms na groter hoogtes kan neem en ek wou op my manier ook ’n bydrae maak. Boonop het ek ook nog nie my belofte nagekom om een van ons leerders se wedstryde te gaan bywoon nie, en het ek besluit om ’n bydrae tot die kospakkies te maak,” sê hy.
Matroos het voorheen vir die rugbyklubs Tygerberg en Kuilsrivier gespeel voordat hy by VDE aangesluit het.
Voedingskema
Sy droom, buiten om vir die klub te speel, is om ook ’n vennoot by die klub te wees om ’n voedingskema vir al die families en kinders in die Stellenbosch-omgewing te begin.
“Ek wil ook help om die jong talent by die klub te ontwikkel en benewens die kos ook die juniors van klere en ander noodsaaklikhede te voorsien.
“My visie by die klub vir 2024 is om ’n kultuur verby rugby te skep, waar families bymekaar kom en ’n gemeenskapsatmosfeer skep. Die atmosfeer sal ’n groot invloed hê op die spel op die veld, want ons as spelers beskou ons familie en vriende wat ons ondersteun as ons bron van energie. My ander doel by die klub is om te help dat VDE in die Top-ses speel en toe te sien dat ons die nodige uitslae kry, maar vir nou vat ons dit maar wedstryd vir wedstryd en bou baksteen vir baksteen,” se Matroos.
Wanneer hy nie rugby speel nie, hou hy van afrigting, staptogte en oefen in die gimnasium.
Die o.20-span het ook ’n borgskap van rugbystewels van De Jager’s op Stellenbosch ontvang, asook rugsakke en gholfers van die Lona Group en Sealand Gear.


