Onnie in hof oor besit van kinderporno

’n Onderwyser aan ’n Kuilsrivierse laerskool het onlangs in die hof verskyn op aanklagte van die besit van kinderpornografie.


’n Gewese onderwyser aan ’n Kuilsrivierse laerskool het onlangs in die hof verskyn op aanklagte van die besit van kinderpornografie.

Dié 39-jarige man is op Vrydag 18 November ná ’n uitgebreide ondersoek in hegtenis geneem en het op Dinsdag 22 November op Stellenbosch in die hof verskyn, het die Wes-Kaapse polisie aan TygerBurger bevestig.

Lt.kol. André Traut, polisiewoordvoerder, het gesê die man is op R2 000 borgtog vrygelaat.

“Die saak is uitgestel en sy volgende verskyning is geskeduleer vir 8 Februarie, weer op Stellenbosch,” het Traut gesê.

TygerBurger het vertroulik verneem dat die onderwyser vir tussen 12 tot 14 jaar werksaam was by die Laerskool Mikro in Mikropark, Kuilsrivier.

Die identiteit van die beskuldigde mag egter nog nie bekendgemaak word nie, aangesien hy nog nie in die saak gepleit het nie.

Dit is bevestig dat een van die ouers se 15-jarige seun deur die ondersoekspan ondervra is.

Die beskuldigde het vroeër vanjaar glo gedurende Januarie en Februarie dié ouer se kind in krieket afgerig. Die beskuldigde was glo ook ’n krieket-afrigter by die skool, maar het glo ook privaatafrigting in Stellenbosch, die Paarl en Strand aangebied.

Die ouer beweer dat veral seuns slagoffers is en dat sommige van hulle glo versoek is om foto’s aan die beskuldigde te stuur.

Volgens die ouer was die beskuldigde ook die drama- en musiekopvoeder by dié laerskool in Kuilsrivier.

TygerBurger wag tans nog op kommentaar van die onderwysdepartement.

Die beskuldigde is glo ook onder huisarres en woon in Stellenbosch, aldus die ouer.

OPVOLGINLIGTING: Die beskuldigde het intussen Netwerk24 per e-pos gekontak en gesê dat hy nie onder huisarres is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.