Die ondernemers van ’n unieke projek wat toebroodjies aan senior burgers verskaf, doen tans projekbeplanning vir vanjaar.
Top, oftewel Toebroodjies vir Oues, is in 2010 deur Werner Schwella en Ulrike Hanekom van Brackenfell gestig.
“In daardie beginjare het ons Sondagaande toebroodjies by die NG kerk De La Haye gemaak en Maandagoggende by Sassa se Bellville-kantoor, waar die oumense ure lank moet toustaan om hul toelae te ontvang, gaan uitdeel,” sê Schwella.
Top het ’n paar jaar later met die diensorganisasies Dorkas en Shiloh in Brackenfell hande gevat en een keer per maand toebroodjies by die rusoord in Proteahoogte begin versprei.
“Shiloh maak die broodjies en Diane du Toit van Dorkas is daarvoor verantwoordelik om dit aan senior burgers wat by die rusoord woon of daarby betrokke is, te versprei,” sê hy.
Verskeie ander projekte het oor die jare heen ook die lig gesien. Een jaar het senior burgers by die Hernus Kriel-ouetehuis in Parow self ingespring om in die winter te help met kniekombersies maak vir senior burgers. Daar is ook al by Huis Ravenzicht in Kraaifontein besoek afgelê. So ook het Ligstad NG kerk in Bellville betrokke geraak om lekkernye te versprei.
“Oor Paasnaweke bederf ons die senior burgers met Paasbolletjies en net voor Kersfees versprei ons roomysbakke met koekies, sjokolade en ander eetgoed.”
In 2021, in druk tye, het die organisasie sy finansiële mikpunt van R28 500 gehaal, waarna sowat 500 senior burgers roomysbakke ontvang het.
“Ons beoog om vanjaar ons mikpunt tot R35 000 te vermeerder. Met ons beplanning op hande word daar nou gedink aan verskeie insamelingsprojekte om dit moontlik te maak.
“Ons kyk vanjaar daarna om Top se dienste uit te brei na meer gebiede, maar dit gaan beteken dat nuwe bronne van inkomste ontgin moet word sodat ons op ander gebiede betrokke kan raak,” sê Schwella.
Die insameling sal weer in Maart begin.
Een idee vir 2022 is om dié jaar ’n nuwe projek van stapel te stuur waardeur vrywilligers ouetehuise besoek om boeke vir senior burgers voor te lees, sou die pandemieregulasies dit toelaat.
“Ons dink ook daaraan om ’n kunstenaar te werf om soos in die verlede die seniors met kulkunsies en buikspraak te vermaak. Ons het in die verlede reusesukses met so ’n kunstenaar behaal wat sy dienste vir ons teen ’n afslagtarief gelewer het.”
Die organisasie doen ’n beroep op mense om vanjaar met insamelingsidees na vore te tree.
“Ons pak alles in geloof aan en nog elke keer het ons ’n donateur gekry wat op die ou einde vir van die tekorte instaan.”
Insamelingsprojekte wat in die verlede suksesvol was, sluit in dié by mense wat groot sportgeleenthede aanskou het.
“Mense het op sulke dae familie en vriende oorgenooi om die wedstryd te kom kyk en dan ’n sagtekollekte gehou wat aan Top oorbetaal is.
“Of iemand hou ’n worsbroodjie-aand en skenk self die wors en die rolletjies, maar verkoop dit aan sy gaste teen ’n billike prys, en die geld wat so gegenereer word, gaan dan na Top. Elke druppel laat loop op die ou einde Top se emmer oor. Hier is die geleentheid waar mense ons met sulke innoverende projekte kan help, maar ook met voorstelle vir wat ons kan doen om Top te help uitbrei. Top poog so ver as moontlik om behoeftige pensioentrekkers te bereik wat geïdentifiseer is deur Top se bestuur en organisasies waarmee ons saamwerk.
- Mense wat die organisasie wil bystaan, kan met Schwella by werner@schwella.co.za kontak maak.


