Dié personeellede van PepsiCo en Meals on Wheels het aan die “cook-a-thon” deelgeneem.

Credit: SYSTEM

Sakeondernemings in die Kaapse metropool word uitgenooi om ’n spanbou met ’n kinkel met hul personeel te hou – in die vorm van ’n “cook-a-thon”.

Met die Covid-19-pandemie, wat talle sakeondernemings laat sluit het, nooi Meals on Wheels in Parow maatskappye om te kom kook en hul voorbereide maaltye word dan aan ’n minderbevoorregte gemeenskap uitgedeel.

“Die vennootskap van ’n ‘cook-a-thon’ tussen personeel van Meals on Wheels in Parow en Capitec, wat in 2021 begin het, het daartoe gelei dat nog ’n groot maatskappy, PepsiCo, se personeel die uitdaging aanvaar het om ook hul eie ‘cook-a-thon’ te hou,” sê Anne-Marie Watt, bestuurder van die tak in Parow.

“Op Dinsdag 24 Mei het die PepsiCo-personeellede hul moue kom oprol en was verstom oor die hoeveelheid werk wat in die voorbereiding van die etes en ook die verpakking daarvan gaan.

“Happiness Madzana, die vrou van een van ons verspreiders wat by Capitec werk, het haar drie dae gemeenskapswerk gebruik om as ons strategiese simposium vir versorgers in Durban as mede-fasiliteerder op te tree. Sy het dadelik verlief geraak op wat die versorgers en Meals on Wheels doen en sy het haar man, Simba, na afloop van die simposium belowe dat sy haar maatskappy sal vra om ’n vennootskap met Meals on Wheels te sluit,” sê Watt.

Tussen Januarie en Februarie verlede jaar het sy die vergadering tussen Capitec en Meals on Wheels gereël en is die vennootskap gesluit en dis hoe die “cook-a-thon” begin het.

“Vanaf Maart 2021 het Capitec by ons in Parow met hul personeel en ons personeel begin kook. Dit was so ’n goeie ondervinding dat dit uitgebrei het na ander takke in die Wes-Kaap, Gauteng, Noordwes, Mpumalanga, die Vrystaat en KwaZulu-Natal.

“Op Dinsdag 24 Mei het PepsiCo se personeel van hul hoofkantoor ’n ‘cook-off’ kom hou. Ons sjef het hulle die verskillende maniere gewys hoe groente opgesny kan word en ’n vinnige kompetisie is tussen die PepsiCo-personeel gereël om die geurigste, smaakvolste en bes voorbereide maaltyd te maak.

Altesame 656 etes is gekook, wat deur Meals on Wheels en PepsiCo opgeskep is. Die Mitchells Plain Meals on Wheels het 400 etes voorberei en dis in Parow se nywerheidsgebied en in Leonsdale uitgedeel. Pakkies Weet-Bix is verpak en vir die jeug is droëvrugte uitgedeel.

“Die reënbuie was ’n bietjie lastig, maar om die dankbaarheid op die gesigte van die ontvangers te sien, het dit alles die moeite werd gemaak.

“Almal was sopnat tot op die been, maar ons harte was warm en daarom dank ons die Here vir al die voorregte wat ons kan geniet,” sê sy.

Watt nooi instansies wat ’n spanbou met ’n verskil wil hou om saam met hul gekwalifiseerde sjef te kom leer hoe om groente op die regte manier vir die regte gereg te skil en te sny.

“Jul kookvermoë sal ook op die proef gestel word onder die wakende oë van ons twee sjefs. Die verskil aan die spanbou is dat die maaltye dan voorberei en uitgedeel word in ’n minderbevoorregte gebied,” sê Watt.

Meals on Wheels doen veel meer as om net vir die behoeftige senior burgers te sorg. Volgens Watt voorsien hulle ook maaltye aan kinders, gesinne, families, skole, ouetehuis en vele meer.

“Ons is ’n nie-winsgewende organisasie en is afhanklik van staatsubsidies, die publiek se bydraes en vrywillige werkers. Die Covid-19-pandemie het baie sakeondernemings laat sneuwel en so ook is van ons grootste donateurs nie meer betrokke nie.

“Dis hoekom ons sakeondernemings uitnooi om aan ’n ‘cook-’n-thon’ te kom deelneem en so ook gemeenskapsdiens te verrig,” sê Watt.

  • Skakel Meals on Wheels in Parow by 021 939 4043 om betrokke te raak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article