Vier dae van die week, soggens tussen 09:00 en 10:00, sal jy lede van die Sarepta Senior Aerobics-klub in die saal by die Sarepta-sportkompleks aantref.
Felicity Josias, wat tans as voorsitter dien, sê die klub se leuse is: “Oefening is ’n huldeblyk aan jou hart” – ’n boodskap wat sy hoop by nóg seniors in die gemeenskap sal uitkom.
“Hier doen ons as seniors oefeninge om die gehalte van ons lewens te verbeter.”

Maandag en Dinsdae bied Valerie Abrahams aërobiese oefeninge aan, Woensdae lei Bernie September die pilates-oefeninge en Donderdae neem Harold Hartzenberg die leisels vir ’n op-en-wakker lyndanssessie.
Lizette Adonis, tesourier, sê lede betaal R30 per maand. Daarvan gaan R10 na die instrukteurs wat die oefensessies aanbied.
Daar is tans 108 lede, van wie die oudste 88 is.
“Meeste van ons lede is so 60 en ouer; baie is professionele mense wat afgetree is,” sê Adonis.
Die meerderheid lede is vroue, maar daar is darem ’n paar manne ook.
Reg vir die dag
“Hier is so 12 mans. Ons het ook twee gestremde lede van onderskeidelik 40 en 21 jaar oud. Die klub is oop vir almal. Dis meestal mense vanuit die gemeenskap hier rond.”
Adonis sê dit is tragies dat mense nou in die winter net heeldag by die huis sit. “Ons is hier; mense kan kom.”
TygerBurger het verlede week op ’n koue wintersoggend gaan inloer toe Harold Hartzenberg ’n groep lede deur ’n paar lyndanspassies gelei het. Dit was ooglopend dat almal dit geniet het. Dit blyk ’n uitstekende manier te wees om lyf en siel te verwarm.

Adonis sê ná die oefensessie voel ’n mens sommer reg vir die res van die dag.
“Ons lede is nogal toegewyd. Selfs as dit reën en storm, kom hulle.” Party lede reël ook met mekaar om saam te ry na die oefensessies.
“Hier kom nog steeds redelik baie lede al is dit winter.
“Dit is so ’n lekker atmosfeer,” sê Josias. “In die somer is ons meer mense, want in die winter lê sommiges bietjie in.”
Hartzenberg sê die meeste klubs vir seniors kom net een of twee dae per week bymekaar. “Hier is dit vier keer per week.”
Hulle is “te aan die gang” vir Golden Oldies, sê Adonis. “Hier is nie ’n hekel- of naaldwerkstorie nie.” Van die kerke se seniorgroepe doen “arts en crafts”, voeg Harzenberg by.
Die klub is in 2000 begin as deel van ’n inisiatief van Stad Kaapstad. Mense is uit die gemeenskap gewerf en gratis opgelei om die oefenprogramme aan te bied. Die Stad stel die saal en toerusting beskikbaar.
Valerie Abrahams, wat die aërobiese oefeninge aanbied, is al een van die oorspronklike vier mense wat in 2000 gewerf is, wat steeds daar is, vertel Adonis. “Sy het vir Harold (Hartzenberg) aan boord gebring. Bernie (September) is ’n professionele sielkundige wat deeltyds pilates aanbied.”
September is sedert 2019 by die klub en Hartzenberg, ’n baldans-instrukteur met sy eie dansskool, het in 2020 aangesluit.
Mense moet weet
Josias en Adonis voel dit is belangrik dat mense moet weet van die klub.
“Veral as mense aftree en by die huis sit, dan is hul geestestoestand nie altyd so lekker nie. As jy aftree, dan begin jy mos panic, wat gaan ek nou doen?” sê Adonis.
Sy vertel van ’n vrou wat kom inloer het, wat baie depressief was omdat sy elke dag net by die huis was.
“Ek het vir haar gesê sy kan mos soggens hiernatoe kom. Sy wou nou nie so baie soos ons dans nie, maar ek het gesê ‘kom sit dan net hier, gesels net met ons, dat ons mekaar aan die gang kan hou’,” sê sy.
Hartzenberg vertel dat ’n vrou wat ’n beroerte gehad het en saam met hulle begin dans het, baie goed herstel het.
“Ons het nie gedink sy gaan sommer regkom nie, maar dalk het sy voor die beroerte ook gedans,” sê Adonis. “Sy doen dit nou al alleen en sy’t vrede met wie kyk of nie.”
Daar word nie net geoefen nie. Josias sê aan die begin van die jaar al word uitstappies en byeenkomste beplan. Vir Vrouedag, wat net om die draai is, word ’n “colour party” en konsert beplan wat voorsiening maak vir 10 tafels met 10 mense elk.
In November word ’n dans aangebied, wat ook as ’n bykomende geldinsamelingsprojek vir die klub se jaareind-uitstappie dien waarvoor ’n bus gehuur moet word, vertel Adonis.
Tydens die winter-skoolvakansie het die klublede sop en toebroodjies voorberei. Dit is by die saal uitgedeel aan kinders of enigeen wat sou kom vra.
“Die kos wat oorbly, neem ons vir die biblioteek, want hulle het mos ’n vakansieprogram as hier niks die kant gebeur nie,” sê Adonis.
- Kontak Felicity Josias by 079 704 8551 vir meer inligting oor die klub.



You must be logged in to post a comment.