Die voortbestaan en uitbreiding van Swartland-skalierenosterveld (SSR) het nog ’n hupstoot gekry deurdat Welgemoed-inwoners die heel eerste van ’n reeks spesiale tuine aangelê het.
Die Welgemoed-stadsverbeteringsdistrik (Welgemoed CID), verskeie inwoners en personeellede van die Tygerberg-natuurreservaat het op Mandeladag in Goewerneurpark saamgespan om ’n verskeidenheid renosterveld-“pionierspesies” in die groep se eerste groen gang-tuin te plant.
Die tuin is die Kinkelbossie-tuin gedoop, die volksnaam vir Tetragonia fruticosa, ’n soort vygie wat in SSR voorkom en ook in die tuin geplant is.
Die groep het 15 verskillende spesies SSR geplant – onder meer vier bedreigde spesies wat op die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) se rooidatalys verskyn.
Groen gange
Louise Ferreira, hoof van vergroening by Welgemoed CID, sê Kinkelbossietuin is die eerste van ’n reeks tuine (wat as groen gange of ekologiese gange bekend staan), wat hulle beplan.
Dié gange sal tussen die natuurreservaat en “geïsoleerde biodiversiteitsareas” in die omgewing aangebring word.
“Hierdie groen gange sal dien as ’n roete waarlangs bestuiwers (hetsy voëls of insekte) deur die beboude areas tussen gefragmenteerde Swartland-skalierenosterveld-habitatte kan beweeg.”
Deur die jare, soos die biodiversiteit in parke verminder het en mense vermeerder het, het dit al moeiliker geraak vir bestuiwers om suksesvol tussen die gebiede te beweeg en sekere tipes plante te laat voortplant – iets wat die Welgemoed CID met hierdie projek wil teenwerk. Die inwoners het ook al met ander projekte gehelp. Met behulp van deskundiges het verskeie mense al begin om Renosterveldplante van sade en steggies voort te plant. Al hierdie plante is binne ’n 10 km-radius van die reservaat versamel en word uiteindelik gebruik om biodiversiteit in die reservaat te beskerm.
Die groep is deel van die groter Tygerberg-renosterveld-gemeen-skap.
“ ’n Mens lees stories oor Rooi-Afrikaners (Gladiolus Watsonius), tans geklassifiseer as “naas bedreig”, wat twee generasies gelede nog ’n algemene gesig was. Nou het die meeste inwoners nog nooit die prag van sy blom in lewende lywe beleef nie,” sê sy. Hierdie is een van die renosterveldspesies wat hulle wil beskerm.





