‘n Splinternuwe fiets- en speelbaan vir jong kinders is pas by die Piketbergpark in Panorama voltooi en geopen.
Cheryl Visser, wykraadslid, sê die Stad Kaapstad en die gemeenskap, wat in ‘n vennootskap was, is trots om die suksesvolle voltooiing van die projek aan te kondig.
Sy sê die projek, wat uit Wyk 1 se wyksbegroting gefinansier is, bied kinders ‘n veilige en prettige ruimte om buitespeletjies te geniet en terselfdertyd ook oor padveiligheid te leer.
“Ons is trots op hierdie projek wat kinders in ons gemeenskap ‘n veilige plek bied om te speel, te leer en buitesport te geniet. Dit wys ook wat moontlik is wanneer die Stad en inwoners saamwerk,” sê sy.
“Ons wil graag ons opregte waardering uitspreek aan almal wat saamgewerk het om hierdie projek moontlik te maak, die parke-afdeling, water en sanitasie, kontrakteurs en al die vrywilligers wat bygedra het. ‘n Spesiale dank aan Christine Wilkinson vir haar kreatiewe padmerke en aan die sakeman Julian Wesson vir die blombeddings, wat die park ‘n gesinsvriendelike en uitnodigende atmosfeer gee,” sê Visser.
Sy sê die projek is ‘n voorbeeld van samewerking tussen die Stad en inwoners en is ‘n waardevolle toevoeging tot die Panorama-gemeenskap, waar gesinne vir jare sal speel en dit geniet.


