As die nuutgestigte rugby-organisasie Maiatanga net een kind kan help om suksesvol te wees, dan sal hy in sy doel geslaag het.
Só sê Cami Viljoen, een van die stigters van die organisasie.
Maiatanga beteken courageous potential in Maori-taal.
“Dit was eintlik een van my senior afrigters se idee. Ons het dit begin en toe sê hy dis my ‘baba’. Ek gaan dit voortaan bestuur. Die doelwit van die organisasie is om talentvolle spelers in nie-tradisionele rugbyskole en -klubs te identifiseer en hulle met die regte voorbereiding te help om by groter skole, waar hulle raakgesien kan word, in te kom,” sê Viljoen.
Viljoen sê so baie talentvolle kinders kry nooit die geleentheid om hul vaardighede op ’n groter verhoog te wys nie.
“Ons beoog om in die toekoms toernooie, oftewel platforms, te skep waar kinders raakgesien kan word. Ons wil hulle ook van die regte toerusting voorsien sodat hulle suksesvol kan wees. Baie spelers met wie ek al te doen gekry het, eet nie eens reg nie, hoewel voeding so ’n belangrike rol in rugby speel. Ons wil seker maak die kind en sy gesin eet reg, al moet ons hulle van kospakke voorsien,” sê Viljoen.
Hy sê as Maiatanga net vir een speler ’n geleentheid kan skep om raakgesien te word, sal hy baie trots wees.
“Ek voel die Here baan ’n weg vir mense. Hy maak deure oop wat deur niemand toegemaak kan word nie. En daar is ’n hele paar deure wat vir hierdie spelers oopstaan,” sê Viljoen.
- Vir meer inligting oor hoe Maiatanga gaan werk en hoe jy kan help, kan jy ’n WhatsApp-boodskap aan Viljoen by 076 285 1470 stuur.





