Die nie-regeringsorganisasie Solidariteit Helpende Hand in die Wes-Kaap het vroeër vandeesmaand met groot opgewondenheid sy nuutste Ons Winkel in McIntyrestraat, Parow, geopen.
Die winkel is nie net ‘n plek vir inkopies nie, maar ‘n spilpunt vir gemeenskapsontwikkeling en ondersteuning, sê die organisasie.
Die Ons Winkels is ‘n inisiatief van Helpende Hand en is daarop gemik om selfstandigheid te bevorder en armoede te verlig deur ‘n volhoubare model van hergebruik en herinvestering. Gemeenskapslede word aangemoedig om skenkings van klere, huisware, speelgoed en ander bruikbare produkte by die winkel af te gee. Hierdie produkte word dan teen billike pryse verkoop en ‘n gedeelte van die inkomste vloei na Helpende Hand se fonds vir rente-vrye studentelenings – ‘n projek wat jongmense help om hul studies te voltooi, sê die organisasie.
Volgens Antoinette Swartz, die eienaar van Ons Winkel Parow, het die gemeenskap die winkel reeds goed ontvang.
“Elke produk wat geskenk en verkoop word, dra by tot ‘n jongmens se toekoms. So ook maak die goeie gehalte produkte teen sakpaspryse ‘n groot verskil vir die koper,” sê sy.
Die winkel verkoop nie net bekostigbare produkte nie, maar skep ook ‘n ruimte waar mense met waardigheid kan kom inkopies doen. Dit is ‘n plek waar hulp en hoop hand aan hand gaan.
Helpende Hand nooi alle inwoners van Parow en omliggende gebiede om die winkel te besoek.
Die winkel is op Vrydag 3 Oktober geopen en is geleë by McIntyrestraat 21A, Parow.
Stuur ‘n e-pos-boodskap na parow@onswinkel.co.za met navrae of om ‘n skenking te reël.





