Soos jy Northpine binnery, op die hoek van Ou Paarlpad en Northpine-rylaan, staan `n ligbaken wat onlangs opgerig is as `n simbool van hoop vir die mense van Kraaifontein.
Ná vyf jaar van beplanning is die sorgvuldig geboude monument – met `n brandende lig binne-in – bekend as die Baken van Hoop, onlangs deur geestelike leiers onthul met die boodskap “Moenie moed opgee nie; ons kyk na mekaar”.
“Ons mense trek swaar en word moedeloos. Die lig binne-in die baken sal dag en nag brand om mense te herinner dat daar altyd hoop is,” sê Alan Kelly, `n kapelaan by die Stad Kaapstad se nooddienste, wat die inisiatief met die projek geneem het.
Die idee daarvan, sê hy, is dat mense in die gemeenskap moet weet dat daar altyd iemand is na wie hulle in tye van nood kan uitreik.
Nuwe hoop vir gemeenskap
Vir dié doelwit is `n netwerk van geestelike leiers geskep om lede van die gemeenskap te ondersteun in `n wye spektrum kwessies, van dwelmafhanklikheid tot misdaad en voedselnood.
“Ons lewe in `n tyd waarin oumense verwaarloos word en kinders vermoor en ontvoer word. Oral om ons is misdaad en die ekonomie trek swaar. Daar is nie altyd kos nie, en baie wanhoop onder mense,” sê hy. “Met dié inisiatief sal gemeenskapsleiers saamwerk om seker te maak elkeen wat uitreik, kan iewers heen verwys word vir hulp.”
Kelly sê dit is `n klein stap, maar die groter konsep daarvan sal hy graag wil sien uitbrei.
“Dit is die klein dingetjies wat ons doen wat dinge stadig verander. Die boodskap van die baken is dat ons na mekaar moet kyk. Dit begin by jou huis, jou bure en woongebied, en groei dan tot jou stad, jou provinsie en jou land.”
Alan Kelly
“Ek sê altyd, as ek met 10 mense praat en net een van hulle neem ter harte wat ek sê, en praat dan met nog een, en nog een, word `n boodskap wyd uitgedra. Ek hoop dat dié boodskap van hoop soos `n veldbrand in Kraaifonten sal versprei.”
“Dit is die klein dingetjies wat ons doen wat dinge stadig verander. Die boodskap van die baken is dat ons na mekaar moet kyk. Dit begin by jou huis, jou bure en woongebied, en groei dan tot jou stad, jou provinsie en jou land.”
Die baken is met die samewerking van die Stad Kaapstad op munisipale grond met die hulp van verskeie skenkings gebou.


