Nuwe inligting in tref-en-trap

Die Brackenfell-polisie ondersoek nuwe inligting wat vanoggend na vore gekom het oor ’n tref-en-trap-ongeluk wat Maandagoggend in Brackenfell-boulevard plaasgevind het. Kapt. Erica Crous, woordvoerder van die Brackenfell-polisie, het vanoggend aan […]


Die
Brackenfell-polisie ondersoek nuwe inligting wat vanoggend na vore gekom het
oor ’n tref-en-trap-ongeluk wat Maandagoggend in Brackenfell-boulevard
plaasgevind het.

Kapt. Erica
Crous, woordvoerder van die Brackenfell-polisie, het vanoggend aan TygerBurger
gesê dat dié nuwe inligting daarop dui dat die bestuurder van die voertuig wat
’n 17-jarige meisie van haar poegie afgestamp het en toe weggejaag het, vanuit
Brackenfell-boulevard links gedraai het in Muidenstraat.

Die polisie
se oorspronklike verklaring lui dat die motoris vanuit Muidenstraat regs
gedraai het in Brackenfell-boulevard. “Die nuwe inligting word nog ondersoek en
kan dus nog nie bevestig word nie,” sê Crous.  Die meisie was op pad skool
toe toe die ongeluk omstreeks 06:20 plaasgevind het.

Volgens
Crous het sy met haar swart Vuka-poegie in Brackenfell-boulevard in die rigting
van Proteastraat gery toe die ongeluk plaasgevind het.

Volgens
betroubare inligting wat TygerBurger Maandagoggend vroeg verkry het, het die
motoris in ’n wit of silwer SUV gery. Polisie kon tot dusver nog nie dié
ooggetuieverslag bevestig nie, maar doen ’n beroep op alle getuies om na vore
te kom en verklarings af te lê.

Dieselfde
ooggetuie het ook gemeld dat die voertuig moontlik ’n stampmerk op sy
linkeragterbuffer mag hê. “Die voertuig het nie ná die ongeluk gestop om vas te
stel of daar beserings was nie, of om vir die polisie te wag nie,” sê Crous.

Die polisie
is na die toneel ontbied en ’n plaaslike sekerheidsmaatskappy het noodhulp
toegepas totdat die ambulans opgedaag het. “Die meisie se linkerbeen is ernstig
beseer en sy is na die naaste hospitaal vervoer,” sê Crous.

Die polisie
ondersoek tans ’n saak van roekelose en nalatige bestuur en die versuim om stil
te hou by ’n ongelukstoneel.

Ooggetuies
of enigiemand met enige inligting wat kan lei tot ’n inhegtenisneming, word
versoek om die polisie by 021 980 5729 of 021 980 5737 te skakel. 

You need to be Logged In to leave a comment.