Hierdie strategiese uitbreiding versterk Kaapstad se posisie as ’n toonaangewende bestemming vir BPO-beleggings. Foto ter illustrasie.FOTO: Heleen Boshoff


’n Nuwe inbelsentrum in Bellville dra by tot ’n jaarlikse voorspelde inkomste van meer as R22,7 miljard vir die plaaslike ekonomie.

Só sê James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese groei, oor die opening van nóg ’n inbelsentrum wat belowende werkskepping op plaaslike bodem doen.

Vos is trots om die betekenisvolle ontwikkeling in die stad aan te kondig. Die maatskappy CXI, ’n vooraanstaande BPO (Business Process Outsourcing)-operateur, gaan die sentrum in Bellville bedryf.

Hierdie strategiese uitbreiding versterk Kaapstad se posisie as ’n toonaangewende bestemming vir BPO-beleggings, met die bedryf wat reeds jaarliks R22,7 miljard tot die plaaslike ekonomie bydra en meer as 65 000 mense in internasionale en meer as 25 000 in plaaslike poste reg oor die stad in diens neem.

Tygervallei-vennote opgewonde

Die Greater Tygerberg Partnership (GTP) is verheug dat CXI Bellville as die ligging vir hul bedrywighede gekies het, wat sal aansluit by ander bekende BPO-sentrums soos onder meer Sanlam, Clickatell, Computer Centre en Sars.

“Groter oproepsentrums soos CXI kan beduidende voordele vir klein tot medium ondernemings in Bellville inhou deur ’n lewendige plaaslike ekonomie te bevorder. ’n Toename in voetverkeer kan lei tot groter sigbaarheid en klantebetrokkenheid vir nabygeleë ondernemings, wat verkope dryf en geleenthede skep,” meen Warren Hewitt, uitvoerende hoof van GTP.

Geleenthede en werkskepping

Vos se ambisieuse doelwit is om die 100 000-werksyfer in die sektor binne die volgende boekjaar te bereik, wat verdere ekonomiese groei en werkskepping vir Kapenaars sal bevorder.

“Die bekendstelling van CXI se inbelsentrum in Bellville is ’n langverwagte visie vir my wat nou ’n werklikheid word,” sê Vos.

“Hierdie ligging, met maklike toegang tot vervoerroetes, residensiële gebiede en noodsaaklike dienste, bied die ideale omgewing vir CXI se bedrywighede, wat Britse gebruikers van kragnutsdienste bedien. Dit getuig van Kaapstad se geteikende benadering tot belegging, wat groot nywerheidspelers na ons gemeenskap lok en ’n hoëprestasie-sakesentrum in Afrika bou.”

Die huidige groei van 300 poste en die belofte om tot 600 nuwe poste deur CXI in Bellville te verhoog, illustreer Kaapstad se sukses om homself as ’n toonaangewende oorsese bestemming vir globale inbelsentrums te posisioneer, veral vir markte in die Verenigde Koninkryk en Europa.

Volgens Hewitt het hulle lankal die mening gehuldig dat die Bellville-kern uitsonderlik goed geposisioneer is om hierdie groeiende sektor te akkommodeer.

“Bo en behalwe ons wêreldklas-kommunikasie-infrastruktuur bevat Bellville die stad se besigste vervoerwisselaar, wat dit die mees toeganklike gebied maak vir pendelaars van reg oor die skiereiland.”

Die Stad Kaapstad se vennootskap met CapeBPO, die stad se toegewyde sakevennoot vir die BPO-sektor, was instrumenteel in die aantrek van eersteklas firmas, die bevordering van vaardigheidsontwikkeling, en die skep van ’n sterk talentpyplyn wat gereed is om in internasionale sakebehoeftes te voorsien.

Strategiese beleggings

Vos beklemtoon dat hierdie groei nie net die stad se aantrekkingskrag weerspieël nie, maar ook die doeltreffendheid van strategiese beleggings in sleutel-groeisektore.

“In onlangse jare het Kaapstad se BPO-sektor meer as R3,4 miljard in beleggings ervaar, wat ons ekonomie transformeer en geleenthede vir inwoners, veral jong mense, skep. Ons mikpunt is om die 100 000-mylpaal te oortref, en ons is goed op pad danksy sterk vennootskappe, uitstekende infrastruktuur en Kaapstad se wêreldwye reputasie as ’n sakevriendelike stad.”

Die BPO-bedryf, geïdentifiseer as een van Kaapstad se hoëgroeisektore, het baat gevind by direkte finansiering vir opleiding en vaardigheidsontwikkeling, wat verseker dat Kapenaars die nodige vaardighede het om in internasionale sake-omgewings te floreer.

Ten slotte sê Vos: “Kaapstad het die bestemming van keuse geword vir internasionale BPO-maatskappye – nie net as gevolg van ons operasionele voordele nie, maar omdat ons volhoubare werksgeleenthede skep en die plaaslike ekonomie bevorder. Saam met CapeBPO en bedryfsvennote is ons toegewyd om Kaapstad ’n wêreldleier in sakeprosesuitkontraktering te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.