Of jy nou gepla is met die maan of nie, die misterieuse sfeer in ons hemelruim betower die mensdom al eeue lank.
Die ryk Suid-Afrikaanse kultuur inspireer ’n projek waar die Centre for Astronomical Heritage, ’n nie-winsgewende maatskappy in Kaapstad, nou die uitheemse, amper uitsluitlik Amerikaanse name vir die volmaan hernoem na name wat Suid-Afrika weerspieël.
Die sentrum beoog om die Amerikaanse name soos die Wolfmaan, Sneeumaan en Pienkmaan te vervang met trots Suid-Afrikaanse erfenisname soos die Dassiemaan, Proteamaan en Heuningmaan.
Die organisasie met lede van reg oor die Kaap het die projek in 2020 van stapel gestuur en het reeds daarin geslaag dat die Afrikaanse Taalmonument eksklusief dié name gebruik wanneer hulle saam met die Orion-observasiegroep (OOG) sterrekykgeleenthede en volmaan- pieknieks op Paarlberg aanbied.
“Daar is egter nog baie werk om te doen om bewusmaking te skep,” sê Edward Foster, ’n direkteur van die sentrum uit sy tuiste in Brackenfell, Kaapstad.
Foster sê in die afgelope 100 jaar, maar spesifiek in die afgelope 20 jaar, het die gebruik ontstaan om elke volmaan met ’n naam te assosieer wat ’n simboliese waarde het, soos die Wolfmaan, Sneeumaan in Februarie en Kouemaan in Desember.
“Die gebruik het skynbaar in Noord-Amerika ontstaan en is meestal gekoppel aan die tradisionele gebruik van die oorspronklike inheemse inwoners van daardie kontinent.”
Hierdie name het egter verwarring geskep onder Suid-Afrikaners, veral dié wat die wetenskap wil bevorder.
“Wolwe het immers nooit in Suider-Afrika voorgekom nie, dit sneeu nie gewoonlik in Februarie nie en nog minder is dit normaalweg koud in Desember.
“Dus is hierdie name geheel irrelevant en onvanpas in die Suid-Afrikaanse konteks en, daarbenewens ontneem hulle, met die ondergang van elke volmaan, vir ons die geleentheid om ’n naam wat trots Suid-Afrikaans is, uit te stal,” sê Foster.
Foster sê die oorspronklike konsep vir die projek was om vir 12 van die volmaan-name slegs woorde uit die /Xam-taal, wat nie meer gepraat word nie, te gebruik.
Nie prakties uitvoerbaar
“Dit was egter, om baie redes, nie prakties uitvoerbaar nie. Ons het egter steeds soveel prominensie as moontlik aan die /Xam-, San-, en Khoi-kulture as moontlik gegee in hul status as eerste nasie van Suid-Afrika.”
Om inklusief te wees, het die sentrum sy soektog uitgebrei na ander Suid-Afrikaanse tale en inheemse kultuurgroepe op soek na name van tydperke in die jaar wat min of meer ooreenstem met die kalendermaande.
“Hiervolgens kon ons ’n erfenis-naamlys opstel wat ooreengestem het met die gebruik in die voor-koloniale tye, sowel as in die huidige amptelike tale van Suid-Afrika.
“Ook tale wat nie meer gepraat word nie, of dan slegs deur enkele afstammelinge van die onderskeie Khoi- en San- stamgroepe.”
Faktore soos mense, die omgewing en die interaksie daarvan is ontleed in die proses om die verskeie volmaanname toe te ken.
Foster verduidelik die volmaan as een van agt maanfases waardeur die maan elke maand gaan, soos dit van die aarde af waargeneem word.
“Die volmaan word gesien wanneer die aarde, maan en son in ’n reguit lyn lê met die aarde in die middel.
“Dan word die hele oppervlakte van die maan, soos van die nagkant van die aarde gesien, belig deur die son. Die maan vertoon dan as ’n ronde verligte skyf,” sê hy.
Die agt maanfases is bekend as die Donkermaan, Groeiende sekelmaan, Eerstekwartiermaan, Boggelmaan, Volmaan, Kwynende Boggelmaan, Derdekwartiermaan en die Kwynende sekelmaan.
“Omdat dit ’n rapsie meer as 29 dae neem van een volmaan na die volgende een is dit in enige kalendermaand moontlik om twee keer ’n volmaan te hê. Dit gebeur egter baie selde, maar as dit gebeur staan dit bekend as die Bloumaan. Daarvoor word ook ’n lys name voorberei.
Bidsprinkaanmaan
Die eerste Volmaan van Januarie wat op 25 Januarie die lig verhelder, is bekend as die Wolfmaan, maar heet nou die Bidprinkaanmaan (Mantis Moon) op die erfenismaan.
“Ten spyte daarvan dat baie plekname in Suid-Afrika na wolwe verwys, soos Wolwekloof, Wolfgat en Wolfrivier, om maar enkeles te noem, was daar nooit wolwe in Suid-Afrika nie. Die Europeërs het skynbaar die Bruin Hiëna vir ’n wolf aangesien en dit die Aardwolf genoem. Wolwe kom op die Afrika-kontinent slegs op die Etiopiese hooglande voor. Om dus Wolf Moon met Bidsprinkaanmaan te vervang, is soölogies, geografies en kultureel die korrekte stap om te neem,” verduidelik hy.
Die bidsprinkaan (praying mantis), met sy driehoekige kop en reuse-oë is ’n besonder interessante insek.
“Sy stadige, afgemete, bewegings staan in skrille kontras met die blitsvinnige spoed waarmee dit op ’n prooi toeslaan.
“Die een wat die meeste mense in Suid-Afrika ken en vrees omdat dit lyk of dit jou die hele tyd dophou, is die gewone groen bidsprinkaan, of reuse- bidsprinkaan.
“Hierdie insekte leef omtrent ’n jaar lank en is karnivore wat slegs lewende prooi eet. Die bidsprinkaan is piepklein vergeleke met die groot karnivore in Suid-Afrika, maar kan enige dag sy man staan wat bekruip- en jagvermoë betref. ’n Bidsprinkaan so groot soos ’n leeu is nagmerrie- materiaal.”
Die bidsprinkaan was die sentrale figuur in die mitologie van die San.
Die San, wat oorspronklik verspreid oor die hele Suid-Afrika geleef het, is van die heel oudste kulture in die wêreld en is die Eerstenasie- mense van ons land.
“In die Santradisie was die bidsprinkaan ’n bedrieërsfiguur, /Kaggen, die een wat mislei. Met verloop van tyd het hy die Nguni toorgees, uThikoloshi, geword.
“/Kaggen het skeppende magte gehad maar ook ’n oordrewe geneigdheid tot kattekwaad en selfs geniepsigheid.
“Dit het hom onvermydelik gereeld kniediep in die moeilikheid laat beland.
“Hy het egter altyd, op een of ander wonderbaarlike manier, as oorwinnaar uitgetree,” sê Foster.
Sover bekend, is /Kaggen nooit in rotskuns uitgebeeld nie.”
“Miskien was dit omdat hy te ontwykend was om voor te stel. Die siening dat die bidsprinkaan vir die San en Khoi ’n god was, is heeltemal foutief.
“Dit is gegrond op ’n wanpersepsie omtrent die geloofsisteme en kosmologie van die Eerstenasie-mense.”
Volgens die San was gewaarwording en gevoel inherente eienskappe van bykans alles – van die wind af tot by die maan en sterre. Alles moes daarom, op toepaslike wyse, eerbiedig word.”
Foster sê die instansie beoog ook om meer publieke bewustheid van Suid-Afrika se astronomiese erfenis te skep deur die samestelling van ’n virtuele museum.
“Inligting oor Suid-Afrika se astronomiese erfenis sal so opgeteken en bewaar word,” sê Foster.


