Nuwe Blitze slaggereed vir Australië

Vyf Blitzbokke, van wie twee debutante, speel die naweek hul eerste wedstryd in ’n sewestoernooi vir 2024 in Perth, Australië.


Vyf Blitzbokke, van wie twee debutante, speel die naweek hul eerste wedstryd in ’n sewestoernooi vir 2024 in Perth, Australië.

Van links is Tristan Leyds (UWK) van die Strand, R

Van links is Tristan Leyds (UWK) van die Strand, Ricardo Duarttee (Stellenberg) van Bellville, James Murphy (Biskoppe) van Rondebosch, David Brits (Cheetahs) van Oos-Londen en Donovan Don (Griffons) van Noordhoek, Velddrif.

Die debutante is Tristan Leyds van Strand, voormalige speler van die Universiteit van Wes-Kaapland, en David Brits van Oos-Londen, voorheen van die Cheetahs, terwyl Ricardo Duarttee, ’n oud-Stellenberger, James Murphy, ’n oud-Biskop, en Donovan Don van Noordhoek in Velddrif die eerste keer vanjaar in aksie is.

Duarttee, ook bekend as Tricky Ricky, sê hy is net bly om weer die span te haal en hy sal moet uithaal en wys in Perth om sy plek in die span te behou. Murphy en Don het sy sentiment gedeel en wil ook net hul beste vir die Blitzbokke gee.

Duarttee het in 2022 sewesaanhangers regop laat sit met sy vertoning in Doebai toe hy sy debuut gemaak het. Doebai is ook die toernooi wat die Blitzbokke die meeste kere gewen het en Duarttee kon nie die glimlag van sy gesig afhaal toe hy deel was van die wenspan in 2022 nie.

Vars bene

Die afrigter, Sandile Ngcobo, het by die bekendstelling van die span op Vrydag 19 Januarie gesê dat hy spelers soos Rosko Specman, Dewald Human en Justin Geduld ’n ruskans wou gee.

Die nuwe spoedvrate en vars bene sal ’n verskil maak in die derde toernooi in die HSBC-sewesreeks en die debutante is onbekend aan die spanne teen wie Suid-Afrika die naweek in aksie gaan wees.

Brits is sedert Oktober verlede jaar deel van die groep, maar het met sy aankoms in die eerste oefensessie sy rib gebreek en moes van die kantlyn dophou. Hy speel senter in die 15-mankode, maar is op haker gekies vir die sewes.

Terug ná besering

Leyds het ná meer as ’n jaar op die kantlyn weens ’n ernstige besering nie gedink hy sal weer rugby kan speel nie.

“Toe ek verlede jaar die oproep kry om saam met die Blitzbokke te kom oefen, het ek die kans aangegryp, want ek wou graag sewes speel. Die oefensessies was taai, fisiek en geestelik, maar ek het vasgebyt en gewys dat ek wel ’n aanwins vir die Blitzbokke kan wees. Ek is opgewonde oor die naweek, het altyd die spelers op televisie gesien en hulle bewonder, maar nou is ons spanmaats en afhanklik van mekaar op die veld.

“Gelukkig kan ons groentjies steun op die ervare spelers soos die kaptein, Selvyn Davids, en Ryan Oosthuizen om leiding op die veld te gee,” sê Leyds.

Don het sy debuut verlede jaar in Hong Kong en Singapoer gemaak, terwyl Murphy al in 2017 in aksie was.

Hy was lid van die Blitzbokke, wat die droom om in 2017-18 as reekswenners gekroon te word, in Hong Kong en Singapoer hoog gehou het toe die ervare en eerstekeuse-spelers soos Branco du Preez in die Statebondspele in Australië in aksie was. Murphy en sy spanmaats, almal nou huishoudelike name, het die ander spanne in die stof laat byt in die twee toernooie.

Die spelers wat vanjaar vir die eerste keer in aksie gaan wees, sal speel om hul plek in die span te behou.

You need to be Logged In to leave a comment.