Nuwe Binnelandse Sake-kantoor verwelkom

Vir ons wat in die noordelike voorstede woon is dit wonderlike nuus dat die departement binnelandse sake ’n kantoor in die Tygervallei-sentrum gaan open.


Vir ons wat in die noordelike voorstede woon is dit wonderlike nuus dat die departement binnelandse sake ’n kantoor in die Tygervallei-sentrum gaan open.

Natuurlik sal die mense na die nuwe kantoor stroom. Die lang toue by Bellville se kantoor is lankal nie meer ’n opsie nie, behalwe vir ou mense en mense wat nie motors het nie wat maar geduldig op die sypaadjie staan.

So baie mense vlug na Malmesbury dat ’n mens daar ook al blokke ver moet toustaan. Ander kantore in die omgewing is ook oorvol.

Die groot probleem bly die stokou stelsels wat jare gelede al aangepas moes gewees het.

Senior beamptes van die departement het blykbaar nog nie van werkstudiebeamptes gehoor nie.

Ons wat die ou staatsdiens geken het, kan duidelik sien dat ten minste die helfte van die stappe om enige dokument te verkry – en poste – afgeskaf kan word. Word dit nie gedoen juis sodat personeel nie hul werk moet verloor nie?

Persoonlik het ek baie vertroue in die op en wakker minister, Leon Schreiber, dat hy sal toesien dat die huidige omslagtige en tydmorsende stelsels vernuwe word.

Doen hy dit nie spoedig nie, sal die huidige stelsel ook maar net voortsleep. So ooglopend verouderd is die huidige stelsel dat ’n werkstudiebeampte wat sy sout werd is, sy werk binne ’n dag kan afhandel.


Adamus P. StemmetDurbanville

You need to be Logged In to leave a comment.