Nutshell ‘n fondsinsameling organisasie gee hoop aan persone wat hoop verloor het

Deelnemers aan die Karla colour run, eenvan die projekte waarvan Nutshell ook deel was.


Elana Visser – bedags ’n onderwyser en snags ’n wonderwerker.

Visser (36), stigter van Nutshell, beskryf haarself as ’n doodnormale kleuterskoolonderwyser wat ’n ongelooflike liefde het vir kinders en ’n passie het om mense te help – só ’n passie dat niemand dit kan stop nie.

Sy werk voltyds by die Pre-primêre Skool La Rochelle in Oakglen en help na ure mense in nood.

Visser verduidelik hoe sy die afgelope paar jaar “die ongelooflike nood daar buite gesien het en hoe baie mense hoop verloor het”.

“Ek wou en het nog altyd mense gehelp, maar dit het my baie geld gekos. Nou kan ek mense help waar almal beter af is.”

’n Saadjie wat kom groei het

Verlede jaar in die Junie-skoolvakansie het ’n ouer vir Visser gevra om haar te help met bemarking. “Natuurlik sal ek haar help, want dit doen ’n mens se siel goed,” sê sy.

“Haar vraag was hoeveel gaan ek daarvoor vra.”

Sy het vir die ouer gesê sy moenie bekommerd wees oor geld nie, en dat sy met graagte help.

Elana Visser is die stigter van Nutshell.

Die ouer se reaksie was dat Visser nie alles gratis kan doen nie, en dit is hoe Nutshell gebore is.

“Sy het ‘n saadjie kom plant wat begin groei het,” verduidelik Visser.

“Almal het ná Covid-19 ekstra bemarking nodig. Ek sal byvoorbeeld ’n colour run hou, waarvoor ek besighede nader om waterpunte te beman. Dit is goeie publisiteit en dis gratis! My werk is kreatief, so ek maak my eie ontwerpe vir my projekte,” sê Visser.

Nutshell wil mense hoop gee

“Dit als kan ek doen in Nutshell deur mense hoop te gee.”

Sy sê sy moes gereeld tafeldoeke en goed huur vir die danse wat sy reël. Sy het dit toe self begin maak, totdat sy eendag besef het sy het al die tafeldoeke en materiaal, sy kan dit netsowel verhuur teen ’n fraksie van wat die uitverhuringsmaatskappy sou vra.

“Ek kan net nóg mense help om goedkoper te wees as die normale plekke, want ek het dit als alreeds self bymekaar gemaak,” verduidelik sy.

Nutshell wil hoop vir enige persoon daar buite voorsien.

“Ek is toevallig by die Downsindroom-vereniging Wes-Kaap as gevolg van ’n ouer wat my ken en dit is ’n onbeskryflike netwerk van mense. Enigiemand is welkom om my te kontak – individue, besighede, enigiemand wat voel daar is nie hoop nie.”

By die Here se voete

“My man vra altyd hoe weet jy dit gaan ’n sukses wees, dan bly my antwoord ek het dit by die Here se voete neergelê en Hy sal voorsien.”

Soos die projekte opduik, is elkeen se behoefte anders, sê sy.

Gebaseer op hoe groot die behoefte is, kontak Visser besighede of mense wat dalk kan help.

“Ek is afhanklik van groot besighede wat kans sien om my klein besighede te help sodat ek ander kan help. Dis glad nie maklik nie, maar wie nie waag nie, wen nie. Ek sal nooit vir myself iets kan vra nie, maar dit maak dit makliker as jy weet jy moet iemand help en dan te vra.”

Nutshell het verlede jaar in die Julie-vakansie ontstaan en tot dusver al talle mense bygestaan.

Visser was die geldinsamelaar vir onder meer Karla se colour run.

Sy is ’n downsindroom-meisie in ’n hoofstroomskool, maar die skool kort ’n voltydse assistent om net vir Karla te help. Geld is toe ingesamel om dit ’n sukses te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article