Die NTK-rugbyklub sê sy jaarlikse Yo’loco NTK-skole-aandrugbytoernooi in Parow het vanjaar suksesvol afgeloop.
Die geleentheid by die rugbyklub in De Grendelrylaan is op Woensdag 2 Augustus gehou.
Die skole wat daaraan deelgeneem het, was die hoërskole Edgemead, The Settlers, Parow, Jan van Riebeeck, Hottentots-Holland, Groenberg, West Cliff, Fairbairn College, sowel as die o.13-spanne van die NTK Jeug-akademie en Vusa. Altesame agt o.19 A-spanne en twee o.13 A-spanne het daaraan deelgeneem.
“Tradisioneel vind dit aan die begin van Augustus plaas, gewoonlik die dag voor Vrouedag, en dien dit ook as ’n ekstra laaste geleentheid vir skole om hul spanne uit te sorteer vir hul interskole-wedstryde.
“Die vooruitsig vir 2024 is om dit dalk te vervroeg na Julie aangesien baie oorsese toerspanne die Kaap besoek, om dit ’n geleentheid te maak waarby skole teen oorsese spanne op die aand sal kan speel.
“Die aand was ’n groot sukses en daar was om en by 400 mense deur die loop van die volle toernooi. Die toernooi is al vier keer by NTK aangebied,” sê Arthur Reichhardt namens dié klub.
Daar is geen trofee op die spel nie; dis bloot ’n wedstryd van 25 minute aan ’n kant. Daarna kry elke skool ’n spesiale vlag vir hul klubhuise om die dag te gedenk en elke seun ’n energiedrankie, asook ’n Speler van die Toernooi-medalje.
“Ons neem ook ’n spanfoto ná afloop van elke wedstryd en een van die speler van die toernooi,” sê Reichhardt.





