Nog geen oplossings vir haweloses in Kuilsrivier

Daar is nog steeds geen maklike oplossings vir die komplekse probleem met haweloses in Kuilsrivier nie.


Daar is nog steeds geen maklike oplossings vir die komplekse probleem met haweloses in Kuilsrivier nie.

Terwyl inwoners en eienaars van sakeondernemings kla oor onwettige strukture, steurings, diefstal, onhigiëniese toestande en veiligheid, word daar ook vrae gevra oor die optrede deur die Stad Kaapstad, wat volgens sommiges onvoldoende is en volgens ander te hardhandig of verkeerd benader word.

Volgens die Stad Kaapstad is ’n paar van die mense wat langs die kanaal agter die Netcare Kuilsrivier-hospitaal gewoon het verlede week vrywillig verskuif.

Met TygerBurger se aankoms op die stuk grond verlede Woensdag, was die strukture reeds verwyder. Die trok wat van die mense se goed weggery het en meeste van die wetstoepassingsbeamptes was reeds op pad uit.

T ygerBurger het kortliks met ’n vrou wat daar gewoon het, gesels. Sy het dit laat klink of hulle (sy en van haar familielede, ook kinders) ingestem het om die grond te verlaat.

Die naam van een van die Stad se maatskaplike werkers is genoem, maar dit was egter nie heeltemal duidelik waarnatoe hulle sou gaan nie.

Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, het op navraag geantwoord die Stad se wetstoepassingsdepartement het met die vrywillige verskuiwing van straatmense (wat teenaan die kanaal agter die hospitaal gewoon het) gehelp, saam met die Stad se departement vir maatskaplike en vroeëkinderontwikkeling, wat maatskaplike hulp aangebied het.

Volgens Van der Ross was die Oostelike-streek se straatmense-eenheid verlede Woensdag aanwesig om diegene wat hulp wou aanvaar of versoek het, by te staan. “Individue is in skuilings geplaas. Die meerderheid van die individue het hulp geweier.”

Van der Ross het uitgewys dat “die span op ’n daaglikse basis in verbinding met kliënte aan beide kante van die kanaal is”.

“Die paar wat hulp aanvaar het, is in verskeie skuilings regoor die stad geplaas of met familie herenig. Verskeie is gehelp om identiteitsdokumente (ID’s) te bekom en toegang tot Sassa-toelaes te kry.”

Van der Ross sê daar is ook skakeling met die haweloses deur ander rolspelers soos Khulisa, wat ’n projek het waarmee die mense ’n inkomste kan verdien, en Ubuntu, wat opleiding in lewensvaardighede aanbied.

Wetstoepassing en afvaldienste was verlede Woensdag (21 Februarie) besig op die grond agter Netcare Kuilsrivier-hospitaal.FOTO: Carina Roux

Optrede

Jamiela Kasper, wat gereeld uitreik na plaaslike haweloses, sê sy het navraag gedoen by die plaaslike maatskaplike dienste (van die Stad) oor die skoonmaak-operasie. “Ek het met een van die veldwerkers gepraat en gevra of hulle betrokke is. Die mense moet êrens heen gaan; hulle kan nie net weggaan nie – daar’s nie ’n ‘weg’ nie.

“Toe sê sy, ‘wetstoepassing is ’n ander afdeling’. Toe sê ek, ‘maar dit is al vir jare die antwoord van die Stad – dit los nie die probleem op nie’.”

Kasper kon nie met sekerheid vasstel of maatskaplike dienste wel betrokke was nie. “Die mense moes kennis gekry het; dit is deel van die proses.”

TygerBurger het Saterdag met van die mense wat op die stuk grond langs Van Riebeeckweg (oorkant die Engen-vulstasie) – algemeen bekend as Aartappelplaas – woon, gesels. Hulle het gesê wetstoepassingsbeamptes het ook by hulle kom draai verlede week en (’n paar) strukture afgebreek.

“Hulle het niks gepraat nie, net kom afbreek.” Volgens Anthony, wat blykbaar al langer as 12 jaar in die omgewing woon, is daar altesaam 37 mense wat daar woon.

“Niemand hier het weggegaan nie.”

Die drie manne wat gewillig was om te gesels, het gesê hulle pla niemand nie en hou inteendeel eerder die skelms weg.

Volgens hulle was die maatskaplike werkers, waarmee hul vertroud is, nie verlede Woensdag daar of beskikbaar nie.

Hulle het beweer dat van die mense hardhandig hanteer is, en dat daar ook ID’s was tussen die goed wat opgelaai en weggery is.

Kasper sê wetstoepassingsbeamptes mag nie noodsaaklikhede soos ID’s, medikasie en toiletware afneem nie.

Die drie manne wil nie elders gaan bly nie. Hulle is nie by familie welkom nie, en, sê Anthony, “as jy by familie bly, word jy soos ’n babatjie behandel”.

Wetstoepassing en afvaldienste was verlede Woensdag (21 Februarie) besig op die grond agter Netcare Kuilsrivier-hospitaal.FOTO:

Hulle voel ook (relatief) veilig waar hulle is en sê ander areas is te gevaarlik. “Hier ken ons mekaar.”

Anthony sê hulle tel gereeld sakke vol vullis op wat by Khulisa (wat aangrensend van die grond geleë is) ingegee word in ruil vir geld.

Terwyl TygerBurger Saterdag saam met Kasper op straat was, het sy ’n seun (17), wat ook naby die kanaal woon, uitgevra oor wat verlede week gebeur het.

Hy het vertel dat daar twee veldwerkers (van die Stad) is wat elke aand kom om na hul welstand te verneem, maar het gesê hulle was nie daar toe wetstoepassing gekom het nie.

“Die dag wat dit gebeur het, het ek hulle gaan haal. Toe sê hulle law enforcement mag dit nie doen nie.”

“As mense geroof word; ons hardloop hulle in. Hul try ons sleg maak. Ek dink iemand is agter die stukkie grond wat hulle uit(ge)stuur (het). Ons was ernstig; ons het amper daai law enforcement-mense brandgesteek – waarnatoe moet ons gaan?”

Volgens Kasper gaan Khulisa moontlik uitbrei, maar sal hulle nie veel meer mense kan inneem nie.

“Hulle program is baie goed, maar gekonsentreerd. Hulle vat een persoon en sit ’n klomp hulpbronne in vir vyf jaar of selfs langer tot hul op hul voete is.”

“Dit is goed, maar hulle kan nie bietjie-bietjie uitdeel vir ’n klomp en dan val mense uit die program uit nie.

“Ek verstaan hoe dit werk, maar wat van die res?”

Kasper sê verskeie organisasies lig al vir jare uit dat daar geen skuilings vir haweloses in Kuilsrivier is nie.

Sy sê sedert die Covid-inperking het die aantal haweloses in Kuilsrivier drasties toegeneem. “Daar is ’n wanbalans tussen hoeveel mense op straat is teenoor die beskikbaarheid van beddens of plek in skuilings.”

Kasper sê van die redes hoekom haweloses hulpaanbiedinge van die Stad van die hand wys, sluit in traumatiese ervarings in skuilings en gebrekkige programme.

“Baie haweloses tref nie ’n onderskeid tussen beamptes van maatskaplike dienste en die wetstoepassingsbeamptes nie. Hardhandige optrede deur wetstoepassingsbeamptes dra by tot wantroue teenoor alle beamptes.”

Ander kwessies sluit in: die skei van mans en vroue, of families en kinders, gebrekkige akkommodasie vir mense met chroniese siektes of geestestoestande, en ’n fokus op herintegrasie met families (wat dikwels faal).

Teen Saterdag (24 Februarie) was daar weer strukture langs die kanaal agter die Netcare Kuilsrivier-hospitaal.FOTO: Carina Roux

Ondernemings ly

Hein Millen, plaaslike besigheidseienaar, sê hy en ander eienaars van ondernemings in die sakekern naby die kanaal, is raadop.

“Mense sê vir my, ons gaan koop eerder in Brackenfell, want dis skoner en veiliger daar.”

Hy sê besighede loop deur onder diefstal. Daar word op die sypaadjies ontlas, voor hul persele gemors, en oop en bloot dwelms gesmous.

”Aan die een kant het ek begrip (vir haweloses), maar aan die ander kant ook nie. Gee vir hulle ’n stukkie grond weg van die besighede. My klante moet hier kom stop. Hoe betaal ek my mense se salarisse as my klante weggaan? Ek wil net hê my besigheid moet oorleef sodat ek my huur en my mense kan betaal en kos op die tafel kan sit.”

Jacqueline Smit, wat in Sonnekuil woon en ook ’n onderneming bedryf, sê die probleem met plakkery kom al sedert 2014 aan. “Die probleem is dat hulle (die Stad/wetstoepassing) niks gedoen het toe dit die eerste keer aangemeld is nie.

“Een vrou (plakker) het vir my gesê die munisipaliteit moet vir haar grond en materiaal gee sodat sy haar bungalow kan bou. Hulle wil nie na skuilings gaan nie.”

Smit sê daar is ook onskuldige mense wat hulp wil hê, maar sy het ook al items wat uit haar erf gesteel is, langs die kanaal gesien.

“Ek het al vir die mense (by die kanaal) gesê hulle moet net ophou om by (inwoners se) plekke in te gaan, dan sal daar nie soveel spanning tussen ons en hulle wees nie. Wetstoepassing het vir my gesê ek moet my goed merk; ek mag nie my eie goed gaan terugvat nie. Dit is waar die spanning vandaan kom.”

Wouter de Vos, raadslid, sê: “Dit is ’n probleem wat oor jare ontwikkel het. Dis ’n komplekse vraagstuk wat nie binne ’n kort tydjie opgelos kan word nie, omdat dit ’n baie gekompliseerde proses is met baie rolspelers wat betrokke is.”

You need to be Logged In to leave a comment.