Annemarie Smith en haar dogter, Lizelle van Wyk, die aand voor die oorplanting.


Ná ’n suksesvolle nieroorplanting van ’n Brackenfellse ma na haar dogter is al twee op die herstelpad.

Dié lewensreddende operasie het op 21 Januarie in die Christiaan Barnard-hospitaal plaasgevind.

Eers is die ma, Annemarie Smith (62), se nier in ’n ses uur lange prosedure verwyder, waarna dit dadelik oorgeplant is in haar dogter, Lizelle van Wyk, in ’n verdere ses uur lange operasie. Annemarie is ná drie dae uit die hospitaal ontslaan en Lizelle ná agt dae.

Lizelle sê sy is optimisties oor ’n dialise-vrye toekoms.

“ ‘Vryheid!’ is die eerste woorde wat ek uitgeroep het toe my dokter my ná die operasie vra hoe dit met my gaan. Alles het so goed verloop dat ek emosioneel oorweldig was ná die sukses van die operasie. My emosies ry nog wipplank, en die snyplekke is nog seer, maar ek sien uit na ’n nuwe blaadjie van gesondheid,” sê Lizelle, wat nou oor 98% nierfunksie beskik.

Sy is ná die operasie dadelik op medikasie geplaas wat sal verhoed dat haar liggaam die orgaan verwerp. Dié medikasie sal sy lewenslank moet gebruik.

“Ek voel baie goed en ek kan normaal rondbeweeg. Ek het soms slegter dae as gevolg van die newe-effekte van die medikasie, maar is deur dokters verseker dat dit mettertyd sal verdwyn.

Ook met Annemarie gaan dit klopdisselboom.

“Ek voel 100% en het geen ongemak nie. Ek voel so nou en dan effens moeg as ek byvoorbeeld ’n stel trappe uitstap. My liggaam is besig om aan te pas om met net een nier te funksioneer soos my nier-funksie-vlakke mettertyd styg. Ek besef dat ek my liggaam mooi sal moet oppas, veral in die volgende ses maande van herstel,” sê Annemarie. Vir haar was dit vanselfsprekend om die geskenk van lewe aan haar dogter te gee.

“Dit was vir my ’n voorreg om nog gesond genoeg te kon wees om dit te doen. Dit was bitter moeilik om haar so siek te sien.”

Komplikasies

Tipe 1-diabetes is op 11 jaar by Lizelle van Wyk gediagnoseer.

Sedertdien leef sy met verskeie komplikasies, soos gloukoom wat haar met net 15% sig gelaat het, neuropatie, ’n geamputeerde been (onder die knie) en regtergroottoon, sowel as vier frakture in al die orige tone. In 2022 is vlak 4-nierversaking by haar gediagnoseer. Sy was sedertdien afhanklik van dialise- behandelings.

Nadat daar bevind is dat Annemarie se weefsel en bloed versoenbaar was met Lizelle s’n en haar nierfunksie-vlakke op 62 nog goed genoeg is om met een nier oor die weg te kom, is die oorplanting ná eindelose konsultasies in Oktober verlede jaar goedgekeur.

Vir Lizelle is haar ma ’n ystervrou.

“Ek is so lief en dankbaar vir haar. Ek en my ma is baie na aan mekaar, onafskeidbaar. Sy is elke dag by my huis en sorg vir alles wat ek nodig het. Ons is onafskeidbaar.”

Lizelle wil nou haar verhaal deel om bewustheid te skep oor die impak van diabetes en nierskenking.

“Ek sal graag ’n boek wil skryf om mense te leer, en om families te help wanneer dié siekte beheer oor jou liggaam vat, en ook hoe sterk ’n band met jou naastes kan word in hierdie tyd,” sê sy.

“Dialise is nie ’n lewe nie. Dit verleng net jou lewe, maar het soveel negatiewe uitwerkings op jou liggaam. Die waglys vir ’n “cadaver kidney” is tussen vyf en 10 jaar in ons land. Gesonde mense wat kies om te skenk, red letterlik ’n lewe. Dit is die enigste kans wat mense met nierversaking het op ’n semi-normale lewe sonder masjiene.

“Dit is my doel om mense hoop te gee wat alle hoop verloor het – om te veg vir die wat nie meer wil nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.