Die Wes-Kaapse polisie het pas bevestig dat niemand nog in hegtenis geneem is ná twee onlangse moorde, wat onderskeidelik in Parow-Noord en Panorama gepleeg is nie.
Die moordslagoffers is die 80-jarige Dirk Miller wie se lyk op Dinsdag 8 Oktober by sy huis in M.E. Rothmanstraat, Parow-Noord ontdek is, en die 72-jarige Hussain Mukadam wat in die vroeë oggendure van 3 September by sy huis in President Brand-singel, Panorama, vermoor is.
LEES | Man (72) by sy huis in Panorama vermoor
Met betrekking tot die moordsaak van Miller het AO Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, verlede week gesê dat die omstandighede rondom die voorval steeds ondersoek word en dat die ondersoekbeampte alle leidrade fynkam in ’n poging om ’n deurbraak te maak in dié saak. “Die verdagtes wat op die vlug geslaan het, is steeds soek,” sê hy.
In die saak van Mukadam sê sers. Wesley Twigg, nog ’n polisiewoordvoerder, dat niemand nog in hegtenis geneem is nie en dat die polisie by enigeen met inligting pleit om na vore te kom. Die saak word nog ondersoek, sê hy.