Hierdie persoon is glo ‘n verdagte wat ‘n skoorekenaar by die Delft-polisiestasie gesteel het. As jy hom herken, laat weet asseblief die polisie.

Internetgebruikers en veral inwoners van Delft het die afgelope week die gek geskeer met die plaaslike polisie nadat ‘n skootrekenaar uit die polisiekantoor gesteel is.

Die dief, geklee in ‘n grys kappietop, het glo doodluiters by die polisiekantoor ingestap, by een van die kantore ingeglip en met die skootrekenaar op die vlug geslaan. Hoewel dit nie ‘n lagsaak is nie, het sleutelbordkrygers nie op hulle laat wag nie.

“Laat die polisie ‘n saak gaan maak by die Delft-polisie,” skryf Shakaria Rangasamy. Monique Moneen Phillips skryf dan: “Laat hulle voel hoe ons voel oor hul service delivery.”

Edward Booysen dink dit is ‘n goeie idee dat die polisiekantoor sekerheidswagte aanstel om hulself te beskerm. Ghalib Yacoob wou weet hoe lank dit die polisie geneem het om op te daag om die misdaad te ondersoek.

Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. “‘n Saak van diefstal is aanhangig gemaak en word ondersoek. Die omstandighede rondom die voorval vorm deel van die ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie,” bevestig Twigg.

Persone met inligting oor die voorval word versoek om die polisie se Stop Misdaad-nommer, 08600 10111, te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article