Liewe Gordy
Jy bevind jou op droë grond by Gordonsbaai
toe jy skielik moet uitswaai vir ‘n nare haai.
Is jy toe almaskie na dié plek vernoem
of het jy jou op burgemeester Hill-Lewis beroem?
Nou is jy Mzansi se bekendste oujongkêrel,
eens verborge skat uit die see, soos ‘n pêrel.
Danksy ‘n veearts en die ratse ADT
was jy ná ‘n gestoei terug in die see,
net om wéér jou verskyning te maak
en selfs nóg meer harte aan te raak.
Nes detyds, toe Just Nuisance, ewe so slim
op die dek sou lê waar matrose moet klim,
kies jý ook koers na Simonstad:
wie weet waarheen is jy volgende op pad.
Met oë en snorbaarde van ‘n labrador geseën,
mag ek vra waarom swem jy steeds alleen?
My wens is dat jy spoedig ‘n maatjie sal kry
wat saam met jou deur die Suidwaters sny.
Eersdaags kom spog jy dalk met jou kroos:
dít sal help om ons verlange te troos.
Lank lewe Gordy, die oseaan se prins!
Mzansi se trots, ons almal se wins.
Retief Loubser, Bellville