Terwyl herfs besig is om na winter te verander, is dit ook tyd vir ’n nuwe seisoen by Radio Tygerberg 104FM.
’n Splinternuwe uitsaaiskedule vir omroepers is verlede week deur die programbestuurder, Rikus van Rooy, aangekondig. Die meeste bekende en geliefde omroepers is steeds daar; hulle saai nou net in ander tydgleuwe uit. Dié vars nuwe skedule het op Maandag 6 Mei in werking getree.
Dieselfde musiek en boodskap waaraan luisteraars gewoond is, sal nog deel van die programme uitmaak. “Ons versprei steeds die verlossingsboodskap van Christus, inspireer jou en speel soos altyd die beste musiek wat jou inspireer. Die programme sal net ’n ligter en moderner aanslag hê, maar steeds met dieselfde diepte wat luisteraars van Radio Tygerberg 104FM ken en koester,” sê Van Rooy.
Groet ’n bekende
Met die veranderings is daar altyd ook hartseer. Een van Radio Tygerberg se legendariese omroepers, Lorrein Katzke, het ná 26 jaar op die lug afgetree.
Radio Tygerberg het op Vrydag 12 April afskeid geneem van Katzke by ’n spesiale geleentheid waar haar bydrae tot die stasie gevier is.
“Lorrein laat beslis ’n groot leemte in ons geledere. Haar innemende geaardheid, positiewe uitkyk op die lewe en pragtige geloofstories sal gemis word. Sy het wel ingestem om nog Maandae haar immergewilde kosprogram, 104Kook, om 14:00 aan te bied. So ons verloor haar darem nie heeltemal nie. Reinhardt Kotze neem nou haar middagprogram oor. Lorrein, ’n reusedankie vir jou kwaliteit werk en jou groot aandeel die afgelope kwarteeu! Jy is enig in jou soort,” het Hardus Zevenster, groep- uitvoerende hoof van Bloudruk, wat onder meer Radio Tygerberg besit, gesê.
LEES OOK | Radio Tygerberg 104FM se Lorrein saai vir oulaas uit
Die nuwe programme
- 06:00 – 09:00: Die Real Brêkfis met Neville, Benescke, Francois en Charl is propvol energie om jou dag op die regte noot af te skop. Benescke Janse van Rensburg en Charl Havenga is reeds ou bekendes en gaan saam met Neville D en Francois Boyce vir huppel-in-die-stap- oggende op Tygerberg 104FM sorg. Die twee nuwe omroepers, Neville D en Francois Boyce, gaan beslis vir meer as net ’n tikkie opwinding sorg wanneer hulle agter die mikrofone inskuif. Neville D is bekend as sanger en liedjieskrywer – hy is selfs al vir ’n Grammy benoem. Francois Boyce is die rondreisende stem wat vanaf verskeie interessante plekke gaan insakel. Francois is veral bekend vir sy HoezitSamelewing-platforms. Die ontbytsessie gaan propvol wees – van Real-nuus tot ’n Body Beat-insetsel wat jou sommer flink uit die vere sal kry.
- 09:00 – 12:00: Lééf met Liomee. Liomee Vosloo is self ’n ouer en gaan op familiesake, gesondheid en inspirasie vir ’n oorvloedige lewe in haar oggendprogram fokus.
- 12:00 – 15:00: Lunch met Reinhard Kotze. Hierdie beloof om ’n welkome blaaskans in die middel van jou dag te wees – propvol pittighede en prettige speletjies. Fliekvlooie sal ook kan inskakel vir resensies in hierdie middagprogram.
- 15:00 – 18:00: Die Lift Klub met Mike Potgieter en Rouchelle Liedeman. Hierdie gedugte span se laatmiddagprogram beloof om jou ’n “lift” te gee, met insetsels soos Air-vent, Ko’s gaan huis toe en Kar-ioke. Huis toe gaan was nog nooit so lekker soos in die geselskap van hierdie twee nie.
“Ons sien die veranderings as baie positief. Die nuwe aanslag is ligter en varser en ons visie bly om die Christenstem van Suid-Afrika te wees. Ons doel is steeds om fisies ’n verskil in die gemeenskap te maak – soos ons reeds die afgelope drie dekades doen. Hierdie verandering is nodig en sal toelaat dat ons verder kan groei. Soos altyd is ons baie dankbaar vir ons getroue luisteraars. Ons sien daarna uit om julle almal die oggend van 6 Mei by ons nuwe skedule te verwelkom,” sê Van Rooy.
Om na Radio Tygerberg 104FM se nuwe programme te luister, skakel vanaf 6 Mei in op 104FM of luister aanlyn by radiotygerberg.co.za of laai die app af wat beskikbaar is in die Google Play- en Apple- winkels.


