‘n Ma van Parow-Noord soek ná drie jaar steeds geregtigheid

Byna drie jaar ná die dood van haar dogter, haar enigste kind, soek ’n ma van Parow-Noord steeds geregtigheid.

Jeanetta Groeneveld en haar oorlede dogter, Maxi (17).

Credit: SYSTEM

Byna drie jaar ná die dood van haar dogter, haar enigste kind, soek ’n ma van Parow-Noord steeds geregtigheid.

Jeanetta Groeneveld, die ma van Maxi Groeneveld (17), sê sy kry ook nie enige terugvoering van die polisie of speurders wat die saak ondersoek nie. Maxi en nog twee mense is op Sondag 3 Januarie 2021 om 09:20 in ’n motorongeluk in Giel Basson- en Burgundy-rylaan in Burgundy Estate oorlede.

Die ander insittendes in die voertuig saam met Maxi was Seth Schoonraad (16), Lisbé Small (46) en Malizka Steenkamp (16). Net Steenkamp het die voorval oorleef, sê Groeneveld.

Daar word beweer dat ’n motor teen die voertuig waarin hulle was, gebots het. Speurders verbonde aan die Parow-polisie ondersoek die voorval.

Groeneveld het ’n saaknommer aan TygerBurger verskaf wat aan die polisie gestuur is, en kommentaar is ook versoek. Teen druktyd is daar egter steeds nie op navrae gereageer nie.

Groeneveld beweer dat sy nog geen inligting rakende die ondersoek ontvang het nie.

“Ek het hoeveel keer gebel en hulle gaan besoek.”

Sy sê die heengaan van haar dogter het haar hartseer laat voel.

“Alles het op aarde dieselfde gebly. Net nie ek nie, maar my kind se bed waarop ek nou slaap, is leeg. Mense lag om my, en is gelukkig, maar ek is gebroke,” sê sy.

Groeneveld voeg by: “Ek wens dit nie vir my grootste vyand toe nie.”

Sy sê sy soek geregtigheid.

“Ons gaan deur hel. My kind was ’n topleerder aan die Hoërskool Tygerberg en het ’n belowende toekoms gehad.”

Sy sê die gesloer met die ondersoek is pateties.

“ ’n Man het sy motor as moordwapen gebruik en hy kom niks oor nie, terwyl drie mense se lewens weggeruk is.”

Groeneveld sê sy kontak die speurders. “Hulle kom nie terug na my nie en dis al twee jaar en tien maande later,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.