‘n Helpende ‘voet’: Siggestremde egpaar voel welkom by Kuilsrivier-rolbalklub

Careen en Grant van Eyssen. FOTO: Carina Roux


In rolbal moet spelers die balle rol om so na as moontlik aan die kleiner wit bal, oftewel “witte” (ook “jack” of “kitty” genoem) te stop.

Die witte moet minstens 23 meter ver lê.

Nou, hoe gemaak as jou sig beperk is en jy glad nie jou teiken kan sien nie?

Jy kort net ’n helpende hand, of dalk eerder ’n helpende voet, soos Grant en Careen van Eyssen, twee nuwe lede van die Kuilsrivier-rolbalklub, kan getuig.

Hulle is dalk die eerste siggestremde spelers by die plaaslike klub, maar albei het baie ervaring. Grant speel al sowat 15 jaar rolbal en Careen het drie jaar lank, voordat sy ma geword het, gespeel. Ná ’n pouse van 12 jaar het sy ’n paar jaar gelede weer begin speel.

Hulle het voorheen by Jaggers-rolbalklub in Mowbray en by Pinelands-rolbalklub gespeel.

Die egpaar het in Oktober 2022 na Soneike verhuis. Grant sê hulle het na ’n rolbalklub naby gesoek en in Maart vanjaar by die plaaslike klub kom inloer.

Albei is dit eens dat die klub hulle sommer gou laat tuis voel het.

“Hier is hulle altyd gewillig om ons te help. Dit is ’n fantastiese klub,” sê Careen.

Die egpaar is einde Mei deur twee Kuilsrivier-rolbalklublede na die Suid-Afrikaanse rolbalkampioenskap vir siggestremdes in Pretoria vergesel.

Grant het ’n bronsmedalje in die enkelspel behaal. In die kompetisie vir pare kon hulle net twee wedstryde speel omdat Careen ongelukkig siek geword het.

“Ons het al in ’n paar nasionale kampioenskappe gespeel en ’n paar medaljes gewen,” sê Careen. Haar debuut was in 1998; Grant het in 2007 die eerste keer nasionaal deelgeneem, maar geen medaljes verwerf nie. “Ek het eers in 2011 regtig begin goed speel,” sê hy.

Aanwyser

Swaksiende spelers maak gebruik van ’n instrukteur of “director – dit is nie heeltemal dieselfde as ’n gids nie en ook nie ’n afrigter nie”, sê Grant.

“Die director gee vir ons die lyn. Hy staan so twee meter voor my en ’n bietjie verder, so drie tot vier meter voor Careen – haar oë is ’n bietjie beter as myne. Sy voet dui aan waar my lyn is om (die bal) te rol.”

Careen sê die instrukteur sal ook vir hulle sê hoe ver die witte lê. “Ons speel met ’n lyn in die middel af.”

Grant verduidelik dit is ‘n tou wat van die middel van die mat, waar die speler staan, na die oorkant van die baan gespan word om die middelpunt aan te dui. Dit help ook die instrukteur met oriëntasie.

Die instrukteur gebruik die horlosie-metode om die speler in te lig waar die bal tot stilstand gekom het.

“Ons kan nie sien wat

Careen en Grant van Eyssen. FOTO: Carina Roux

Careen en Grant van Eyssen. FOTO: Carina Roux

daar onder aangaan nie, so jy moet in jou kop ’n prentjie vorm. Ek (die bal) is nou op 07:00 en ek moet probeer om by 12:00 uit te kom.”

Careen sê met tyd en ervaring raak dit makliker. Die speler en instrukteur leer mekaar ook beter ken.

“Dit is baie belangrik,” sê Grant. “Dit is eintlik ’n 50/50 (-verhouding tussen die speler en instrukteur). Jy moet met hulle oor die weg kan kom. Julle moet kliek met mekaar.”

By die nasionale kampioenskap het Graeme Bensley vir Grant en Robin Hogg vir Careen as instrukteurs ingestaan aangesien hul eie instrukteurs van Pinelands-klub nie kon help nie.

”Hier by die klub is soveel mense wat ons al gehelp het. Almal is bereid om ’n beurt te kry om ons te help. Dit is baie nice,“ sê Grant.

Boonop kan hulle nou ook meer gereeld speel. ”In Pinelands het ek een keer per week gespeel, nou speel ons drie keer per week.”

Careen sê dit help ook om hul spel te verbeter.

Onafhanklik

Siggestremdes het vier kategorieë waarin hulle meeding.

“B1 is heeltemal blind, B2 is ’n bietjie beter, B3 is nog beter, en B4 kan die meeste sien,” sê Grant.

Hy val in B2 en Careen in B3.

“By die nasionale toernooi speel jy enkelspel net in jou eie kategorie, maar die pare kan gemeng (verskillende kategorieë saam) wees.”

Die pare wat saamspeel is gewoonlik van dieselfde klub, maar hoef nie te wees nie.

Careen sê sy geniet die samesyn en die atmosfeer van rolbal speel.

Grant sê veral by toernooie loop jy ou vriende raak en maak nuwes. “Ek hou ook baie van die kompetisie. Ek is baie mededingend. Jy wil (meeding).”

Careen sê dit is vir hulle lekker om saam met siende mense te speel. “Ons twee is die enigste swaksiendes hier (by Kuilsrivier-rolbalklub).”

Grant sê in Pinelands was dit net hul klein ‘‘blinde groepie”. “Ons het nooit saam met siendes gespeel nie. Hier speel ons tussen hulle. Dit help vir my om jou spel lekker op te bring.”

Careen (62) het twee jaar gelede afgetree ná 36 jaar diens op die skakelbord van die Universiteit Stellenbosch se Tygerberg-kampus.

Grant (54) het verlede jaar opgehou werk. “Ek het by ABSA en Bidvest gewerk – ook skakelbord; 31 jaar was genoeg. Die vervoer was sleg, (ek) kon dit nie meer hanteer nie – die busryery.”

Hy en Careen gebruik deesdae Uber, aangesien hulle nie kan bestuur nie. Careen is sedert geboorte swaksiende.

“Ek was 13 toe ek my sig verloor het nadat ek ’n asma-aanval gehad en in ’n koma verval het,” sê Grant.

Dit is vir albei belangrik om so onafhanklik as moontlik te wees.

“Uber is ’n lifesaver vir ons,” sê Careen, want vir enige gestremde is dit nie lekker om te vra dat iemand hul rondry nie.

Grant sê hy stap soms die sowat 2 km na die Soneike-winkelsentrum toe, maar andersins is dit Uber.

Vir die meeste swaksiendes is vervoer ’n groot probleem, sê hy. “Mense sê ‘ons sal jou vat’, maar jy voel altyd sleg om te vra.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article