Inwoners in die nabye omgewing van die Kannemeer-pompstasie in Sarepta is moeg vir rioolwater wat uit dreine stroom.

Brent Swart, wat in Irisstraat woon, sê die pompstasie in Kannemeyersingel is in die straat net agter hulle geleë. “Ek sukkel nou al vir meer as vyf jaar met die Stad Kaapstad oor die dreine wat telkemale oorloop weens ‘n pompstasie wat elke keer breek. Elke keer moet ons dae wag vir diens van die Stad af.”

Swart het ‘n hele paar verwysingsnommers aangestuur van gevalle wat by die Stad aangemeld is.

Liezel Johannes, Swart se buurvrou, beaam die probleem kom al ‘n paar jaar aan. Sy sê dit gebeur nou meer gereeld dat die rioolwater oorvloei. “Verlede jaar was dit seker so twee of drie keer, maar vanjaar het dit al vier of vyf keer gebeur, en dit is nou eers Mei.”

Sy het nog nooit enige skade op haar erf weens die rioolwater gehad nie, maar die drein, en die stank wanneer dit oorvloei, is die naaste aan haar kombuis se kant.

“Die probleem is as ons hulle (die Stad) nou (in die week) bel, dan kom die werkers eers Sondag uit; dit is nogal ongerieflik vir ons.

“Hulle geniet seker die dubbele betaling op ‘n Sondag. As hulle net vroeër kan reageer. Dit gaan nie net oor die reuk nie; dit gaan ook oor die blokkering,” sê Johannes.

Die mees onlangse oorvloeiings was rondom Paasnaweek. Swart sê die probleem het eintlik al die vorige Sondag weer kop uitgesteek. “Ek het dit toe aangemeld en die Stad (se werkers) het (dieselfde dag) uitgekom om dit leeg te pomp, maar (op Goeie) Vrydag was die probleem terug.”

Dit is die Vrydag weer aangemeld, maar dié keer moes die inwoners heel naweek asem ophou.

Eers die Maandag ná 22:00 het ‘n span opgedaag om die water te kom wegpomp, sê Swart.

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, sê die Kannemeyer-pompstasie is ontwerp om ‘n vloei van 3,5 liter per sekonde te kan hanteer – voldoende om die formele huishoudings te bedien.

“Die uitbreiding van agterplaaswonings lei tot ‘n hoër volume vloei, wat die kapasiteit van die pompstasie oortref en dus uitdagings veroorsaak. Tans is die pompstasie ontwerp om met een pomp te funksioneer.”

Badroodien sê hy wil inwoners gerusstel dat daar begin is met ‘n plan om die ondergrondse opgaartenk vir afvalwater (“wet well”) by die pompstasie te vergroot om plek te maak vir ‘n tweede pomp sodat dit die groeiende omliggende gemeenskap kan akkommodeer.

Badroodien het nie ‘n verwagte datum gegee teen wanneer die tweede pomp in plek sal wees nie, maar het gesê die Stad monitor intussen die pompstasie deur ‘n telemetriese stelsel en daaglikse inspeksies in ‘n poging om die rioolvloei te help beheer en die risiko van oorvloei te verminder.

“Die Stad is jammer vir die ongerief wat veroorsaak is en verseker inwoners dat elke poging moontlik aangewend word om hierdie saak op te los,” sê hy.

Dreine wat oorloop veroorsaak groot ongerief vir nabye inwoners.
Die rioolwater stoot op in nabygeleë dreine.

You need to be Logged In to leave a comment.