MrBeast vang Kaapse skoonheid

’n Voormalige DF Malan-toppresteerder en sprankelende Suid-Afrikaanse internet-ster Thea Booysen (27) het die afgelope feestyd haar verlowing aan die YouTube-super-ster, MrBeast, gevier.


’n Voormalige DF Malan-toppresteerder en sprankelende Suid-Afrikaanse internet-ster Thea Booysen (27) het die afgelope feestyd haar verlowing aan die YouTube-super-ster, MrBeast, gevier.

Die Amerikaanse boorling Jimmy Donaldson (26) het die afgelope Kersfees gesorg dat sy met ’n verloofring onder die Kersboom verras word in die soete samesyn van haar familie in die Amerika.

“My familie het van Suid-Afrika af gevlieg vir Kersfees, en ons sou Kersfees by ons huis hou sodat albei families hier kon wees. Ons was besig om geskenke oop te maak, en toe, vir die heel laaste geskenk, het hy my gevra om my oë toe te maak omdat dit ’n verrassing was,” het Booysen aan People vertel. “Ek het doelbewus ’n groot boks laat val om ’n geluid te maak voordat ek die regte geskenk – met die ring binne-in – aan haar oorhandig het.

“Toe het ek op een knie gegaan en haar gevra om te trou,” het Donaldson op sy beurt aan die publikasie gesê.

Toe haar oë op die skitterende diamantring met roosgoud oopgaan, het sy met die woorde “natuurlik, ja” MrBeast se verlowing aanvaar.

Dit het gekom nadat die paartjie al twee jaar in ’n verhouding is.

Jimmy Donaldson (MrBeast) het uiteindelik een maand nadat Thea Booysen haar meestersgraad in menslike kognitiewe neuropsigologie aan die Universiteit van Edinburgh behaal het op sy knie gesak.FOTO’S: Instagram/MrBeast

Aanvanklik het die moontlikheid van ’n ernstige verhouding maar skraal gelyk nadat MrBeast vir Booysen in 2022 ontmoet het tydens ’n besoek aan Suid-Afrika.

Gedurende die reis het hy saam met ’n gemeenskaplike vriend aandete gaan eet, wat vir Booysen genooi het om by hulle aan te sluit.

Booysen bieg sy het aanvanklik nie gedink die vuurwerke tussen haar en Donaldson sou tot ’n ernstige verhouding lei nie. Maar hy het kort ná hul ontmoeting na haar uitgereik op X (voormalig Twitter) en haar gevra om hom te laat weet sodra sy haar boek, The Marked Children – ’n wetenskapsfiksiewerk – gepubliseer het.

Die boek handel oor kinders wat met ’n vreemde merk op hul lyf wakker skrik en ontvoer word.

Sowaar, toe haar selfgepubliseerde boek in Augustus 2022 op die rakke beland en sy MrBeast daaroor vertel, het die twee se verhouding vlamgevat.

Superster-status

Donaldson het as 342 miljoen intekenare op YouTube, meer as 106 miljoen volgelinge (wat hom een van die topbydraers op die platform maak) op TikTok, meer as 64 miljoen volgelinge op Instagram en sowat 31 miljoen volgelinge op X.

Sy aanstaande van Bellville, ook aanlyn as TheaBeasty bekend, het ook ’n merkwaardige aanlyn-teenwoordigheid. Sy is bekend vir haar inhoud op die stromingsdiens Twitch.

Haar volgelinge strek tot meer as 500 000 op Instagram, met 63 700 volgelinge op TikTok, sowat 17 700 volgelinge op Facebook en byna 40 000 intekenare op YouTube onder haar TheaBeasty-blad.

DF Malan-toppresteerder

Booysen word plaaslik onthou as ’n toegewyde oud-leerder van die Hoërskool DF Malan.

Sy was bekend as een van die skool se toppresteerders, en haar gesig het voorheen in TygerBurger verskyn met die skool se aankondiging van sy leerderraad in 2015.

Die leerderraad vir 2015 was destyds (agter van links) Barry Vorster, Jacques de Vos, Phillip de Villiers, Hendré Cubitt, Harvard Koegelenberg, Christiaan Burger en Joubert Marais. Voor is Megan van Eeden, Thea Booysen, Leon Rossouw, Janke Malan en Leroux van der Merwe.FOTO: Argief

Haar gunsteling Afrikaanse-onnie, Gert Visser, skryf: “Thea was gedrewe en het nie gehuiwer om haar mening helder en duidelik uit te spreek nie. Sy kon baie goed debatteer en het by haar standpunt gehou.

“Sy het altyd kalm gebly en was baie hoflik, al het sy met jou verskil. Haar sterk persoonlikheid het haar ’n ware leier gemaak,” vertel Visser.

Booysen het die boek The Marked Children aan hom opgedra, iets waaroor Visser baie geëerd voel.

“Dis nie altyd dat oudleerders vir onderwysers toon dat hulle waardering het vir al hul moeite en aanmoediging nie. Ons is almal baie opgewonde oor haar verlowing aan MrBeast en wens hulle sterkte en net die beste toe vir die nuwe jaar en die nuwe fase van hul lewe wat hulle ingaan.”

MrBeast het uiteindelik een maand nadat Booysen haar meestersgraad in menslike kognitiewe neuropsigologie aan die Universiteit van Edinburgh in Skotland behaal het op sy knie gesak.

Sy het ook ’n Baccalaureusgraad in regte en ’n Honneursgraad in sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.

You need to be Logged In to leave a comment.