’n Vrou (57) se motor is Saterdagaand in Proteahoogte gekaap nadat sy uit haar motor gepluk is.

Volgens die Brackenfell-polisie het die voorval omstreeks 20:30 in Dahliastraat plaasgevind.

“Volgens inligting het die vrou met haar voertuig, ’n wit Ford Fiesta, by ’n familielid se oprit opgery toe vier mans in ’n voertuig agter haar gestop het. Twee van die mans, albei gewapen, het uitgeklim, hul vuurwapens op haar gerig en haar uit haar motor gepluk,” sê polisiewoordvoerder kapt. Erica Crous.

Daarna het hulle in haar motor geklim en weggejaag.

Volgens Crous is daar geen arrestasies gemaak nie.

Die polisie ondersoek tans ’n saak van motorkaping.

You need to be Logged In to leave a comment.