’n Motoris is vanoggend (12 October) vermoedelik amper gekaap by ’n stopstraat in Proteaweg, Brackenfell.

Volgens ’n ooggetuie wat agter die motoris gestop het, het die insident om sowat 08:30 plaasgevind op die hoek van Heuwelstraat.

“Die verdagte kaper het by die passasiers kant van die motoris se voertuig probeer inklim. Die deur was nie gesluit nie, maar die kaper kon nie die deur heeltemal oop kry om in te klim nie. Ek het in die stadium gedink die twee mans ken mekaar, maar het gou besef dit was nie die geval nie toe die bestuurder uitklim en op die man begin skreeu,” vertel Bejamin Kamp.

“Hy het teruggespring in sy motor en vorentoe beweeg, waarna die [verdagte] sy motor agterna met twee klippe bestook het.”

Die motoris het daarin geslaag om weg te jaag, waarna die vermeende kaper ook weggehardloop het.

Volgens Kamp was die man nie sigbaar gewapen nie.

“Hy was sowat 1.6m lank, klein gebou en het ’n plastieksak by hom gedra,” sê Kamp.

Die Brackenfell-polisie kon tot dusver nog nie die insident bevestig nie.

You need to be Logged In to leave a comment.