Ná aanleiding van die tragiese motorfietsongeluk onlangs in Bothasig wat die lewe van ‘n 19-jarige man kortgeknip het, het vrae oor padveiligheid in dié gebied weer opgeduik.

Aidan Ruger, ‘n oud-leerder van die Hoërskool Edgemead, is Sondag 5 Oktober oorlede nadat die bestuurder van ‘n sportnutsvoertuig teen sy motorfiets gebots het. Hy is op die toneel dood verklaar en sy passasier is met ernstige beserings na die hospitaal vervoer (“Jong man van Bothasig sterf”, 8/10).

Die bestuurder van die sportsnutsvoertuig het na bewering van die toneel af gevlug. Die oorsaak van die ongeluk word nog ondersoek.

TygerBurger het by die Bothasig-gemeenskapspolisiëringforum (GPF) gesels oor padveiligheid hier.

Mario Borchards, GPF-voorsitter, sê daar word maandeliks hoë-digtheidsoperasies in die gebied uitgevoer waarby verskeie rolspelers betrokke is.

“Spoed is ‘n voortdurende kwessie op Bothasig se paaise vir ‘n aantal jare nou al. Soos die feestyd nader, gaan ons die aantal operasies vermeerder,” sê hy.

Borchards voeg by dat die Stad Kaapstad Metro-polisie se verkeersdienstee ook aangemoedig word om meer operasies saans in Vryburger-rlaan, De Grendel-rylaan en Plattekloofweg uit te voer, plekke waar spoed ‘n bekommernis is.

“Inwoners word daaraan herinner om die padreëls te gehoorsaam — veral om by stoptekens stil te hou — om sodoende algehele veiligeid te verseker.

“Met die bekendstelling van die Stad se vyf buurt-veiligheidsbeamptes, is ons hoopvol dat die sigbaarheid van wetstoepassers en die nakoming van die padreëls verder sal verbeter,” sê Borchards.

Miquette Temlett, wykraadslid, het die nuwe veiligheidsbeamptes by die Laerskool Edgemead gisteraand (Dinsdag 14 Oktober) bekendgestel.

In ‘n skrywe vroeër op haar sosialemediablad het Temlett genoem dat die beamptes ‘n reuse hupstoot is vir veiligheid en wetstoepassing in die wyk, en ook om die buurt misdaadvry te probeer hou.

Metro-polisie fokus op verkeerswetstoepassing, die nakoming van munisipale verordeninge en misdaadvoorkoming deur middel van sigbare patrollies en sterk gemeenskapsbetrokkenheid, noem sy verder.

‘n Gedenkdiens is Maandag vir Aidan gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.