Tientalle motoerfietsryers het die diens Maandag bygewoon.

Tientalle motorfietsryers het op Maandag 13 Oktober by die Bikers Chuch Cape Town in die Brackenfell-nywerheidsgebied byeengekom om hul laaste eer te betoon aan Aidan Joshua Ruge, van Bothasig.

Aidan (19), ‘n voormalige leerder van die Hoërskool Edgemead, is op Sondag 5 Oktober oorlede nadat ´n sportsnutsvoertuig met sy motorfiets op die hoeke van Boomstraat en Vryburger-rylaan gebots het.

Hy is op die toneel dood verklaar. Sy passasier is met ernstige beserings na die hospitaal vervoer.

‘n Gedenkdiens is vir hom gehou.

Voordat die diens begin het, het ‘n groep motorfietsryers eers omstreeks 13:00 by die N1 Stad-winkelsenstrum bymekaargekom om in konvooi na die kerk gery.

Aidan se gedenkdiens het om 14:00 begin.

Die diens is deur past. George Lehman waargeneem.

Kerse is deur sy ma, Anje, suster Caitlin en broer Kyle, aangesteek voordat die diens begin het.

Lehman het genoem dat die opkoms wonderlik was en dat dit spreek tot hoe waardevol Aidan se lewe was. Hy het ook genoem dat Aidan in ‘n stadium in sy lewe die Here aangeneem het en ook by die Soldiers for Jesus-motorfietsklub aangesluit het. “Teen die ouderdom van 19-jaar het hy soveel in sy lewe bereik. Aidan het altyd ‘n positiewe hart gehad,” het Lehman aan roubeklaers gesê.

As geestelike leier, het hy gesê, was dit vir hom ‘n voorreg om Maandag die diens te kon lei.

‘n Foto van Aidan Joshua Ruger voor in die kerk.

Trevor Ruger, Aidan se pa, het die huldeblyk gelewer.

“As ‘n pa wil ek net sê dat jy my trots gemaak het. Elkeen met wie jy tyd spandeer het, het jou lief gehad,” het hy gesê.

Tiana Green, sy niggie, het hierna gevolg.

“My hart is gebroke. Om totsiens te sê voel onwerklik,” skryf sy. Tiana voeg by dat Aidan ‘n manier gehad het om almal belangrik te laat voel met wie hy in aanraking gekom het. Sy glimlag kon ‘n kamer ophelder.

“Ek het nooit ‘n wêreld sonder Aidan voorgestel nie, en nou is die wêreld baie stiller. Ons weet jy is nie meer hier met ons nie, maar die liefde en die genot wat jy gegee het, sal verewig met ons bly. Rus sag Aidan, jy sal verewig my neef bly,” het sy afgesluit.

Tiana het ook ‘n brief van Anje voorgelees.

“Jy was was die mees saggeaarde seun waarvoor ‘n ma kon vra wat altyd omgegee het. Ek is lief vir jou met my hele hart,” het Anje geskyf.

Sy het gesê een van die heel laaste take wat hy as seun vir haar verrig het, was om ‘n braaiplek vir haar en sy suster te bou.

Aidan was ook lief vir vuurmaak en kon vir ure voor die vuur sit, het sy gesê.

“Laastens my seun, jy is nie meer langer by ons nie, maar ons sal die blywende impak wat jy op soveel mense se lewens gehad het, altyd onthou,” het Anje gesê.

Anje Ruger (regs), Aidan se ma, steek ‘n kers aan ter herinnering van haar seun tydens die begrafnisdiens. Haar dogter Caitlin het ook ‘n kers aangesteek.

Reagan Kelly, een van sy boesemvriende, het ook hulde gebring aan Aidan.

“Jy was ‘n goeie vriend, en ek dink aan jou as my broer. Geen uitdaging was te groot vir jou nie,” het hy gesê.

Hy het genoem dat Aidan lief was vir rugby, dat hy ‘n goeie persoon was om mee te gesels, en om na te luister.

“Hy het geweet hoe om daar vir iemand te wees. Aidan, ek is baie lief vir jou, en sal nooit ophou lief wees vir jou.

“Dit is nie ‘n totsiens nie nie, want ek sal jou weer eendag sien. Rus in vrede my broer,” het hy gesê.

Die Hoërskool Edgemead, Bothasig-inwonersvereniging en die Bothasig-gemeenskapspoliëringforum het ook almal hul medelye met die familie en vriende van Aidan betuig.

Kyle Ruger (voor), Aidan se broer, was een van die slippedraers.

TygerBurger probeer nog vasstel of die bestuurder van die sportsnutsvoertuig, wat ná die ongeluk vanaf die toneel gevlug het, in hegtenis geneem is.

Die Bothasig-polisie het nog nie op navrae hieroor gereageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.