Man gevonnis tot 21 jaar vir noodlottige Bonteheuwel-skietery

Die man wat ’n jaar gelede ’n pa naby ’n spazawinkel in Bonteheuwel doodgeskiet het, is verlede week 21 jaar gevangenisstraf opgelê.


Die man wat ’n jaar gelede ’n pa naby ’n spazawinkel in Bonteheuwel doodgeskiet het, is verlede week 21 jaar gevangenisstraf opgelê.

Nadeem Mclean, ’n pa van twee, is op 20 Februarie verlede jaar doodgeskiet toe hy onderweg na ’n spazawinkel in ’n bendeverwante voorval geskiet is.

Hy was glo nie die teiken nie, maar is getref omdat die teiken van die aanval ook in die winkel was. ’n Bendelid en ’n 12-jarige meisie is ook in die aanval gewond.

Die beskuldigde, Tymin King, gaan 21 jaar agter tralies sit en die plaaslike raadslid, Angus McKenzie, sê die vonnis stuur ’n duidelike boodskap aan ander bendelede. “Dit was die gemeenskap wat gehelp het dat die moordenaar kort ná die aanval aangekeer is. Hoewel ’n vonnis van lewenslank gepas sou gewees het, is ons dankbaar vir die ondersoekbeamptes en die aanklaers wat seker gemaak het dat geregtigheid spoedig geskied. Dit moet as waarskuwing vir bendes dien dat die gemeenskap ‘gatvol’ is vir hulle en nie meer gaan stilbly nie,” sê Mckenzie.

McKenzie sê sedert die moord op Mclean het Bonteheuwel ’n groot daling in die hoeveelheid moorde ervaar.

“Daar was nog net een moord tot dusver vanjaar,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.