Misdaadstatistieke: Moorde in Kuilsrivier neem toe

Die polisie se jongste misdaadsyfers vir die derde kwartaal van Oktober tot Desember 2024, wat onlangs bekendgemaak is, toon dat handelsmisdaad stewig toegeneem het.

Die Kuilsrivier-polisie het die 10de meeste gevalle van handelsmisdaad in die Wes-Kaap geregistreer. Kaapstad-Sentraal (334), Bellville (256), Durbanville (219), Milnerton (212) en Brackenfell (211) is boaan die lys. Foto ter illustrasie.

Credit: Marelize Barnard

Die polisie se jongste misdaadsyfers vir die derde kwartaal van Oktober tot Desember 2024, wat onlangs bekendgemaak is, toon dat handelsmisdaad stewig toegeneem het.

In die Kaapstad-metro is 4 994 gevalle van handelsmisdaad, wat bedrog en vervalsing insluit, aangeteken. Dit is ’n toename van 375 gevalle (8%) teenoor die ooreenstemmende kwartaal in 2023.

In Kuilsrivier het handelsmisdaad met 30% toegeneem van 119 gevalle in 2023 tot 155. In die vorige kwartaal (Julie tot September 2024) was daar 140 gevalle, wat ook aansienlik meer was as in dieselfde kwartaal in 2023 (94).

Die Kuilsrivier-polisie het die 10de meeste gevalle van handelsmisdaad in die Wes-Kaap geregistreer. Kaapstad-Sentraal (334), Bellville (256), Durbanville (219), Milnerton (212) en Brackenfell (211) is boaan die lys.

Kontakmisdaad

Altesaam 339 (teenoor 396 in 2023) sake van kontakmisdaad, wat moord, poging tot moord, seksuele oortredings, aanrandings en roof insluit, is in dié tydperk by die Kuilsrivier-polisie aangemeld.

In vergelyking met die ooreenstemmende kwartaal in 2023 is dieselfde aantal pogings tot moord (26); minder gewone aanrandings (150 teenoor 159) en minder ernstige gevalle van roof (66 teenoor 83), aangemeld.

Daar was meer moorde (8 teenoor 6) en verkragtings (19 teenoor 16) as in dieselfde kwartaal in 2023. Aansienlik minder aanrandings met die doel om ernstig te beseer is aangemeld (38 teenoor 75).

Daar was ses rooftogte by wonings teenoor nege in dieselfde kwartaal in 2023 en 12 in die vorige kwartaal (Julie tot September 2024). By nie-residensiële persele is vyf rooftogte aangeteken.

Ontvoerings het in die Wes-Kaap met bykans 10% afgeneem van 305 (selfde kwartaal in 2023) tot 275 gevalle, en in die Kaapstad-metro met 18,5% van 238 tot 194 gevalle. Vier ontvoerings is in Kuilsrivier aangeteken teenoor sewe ’n jaar gelede en ses in die vorige kwartaal.

In Kuilsrivier is vyf voertuigkapings geregistreer teenoor ses ’n jaar tevore en ’n ongekende 16 in die vorige kwartaal (Julie tot September 2024). Plaaslik is een vragmotorkaping aangemeld (teenoor een in 2023 en geen in die vorige kwartaal).

Eiendom

Soos in die vorige kwartaal (Julie tot September) is 22 voertuigdiefstalle by die Kuilsrivier-polisie aangemeld. Kaapstad-Sentraal (49) het die meeste voertuigdiefstalle in die Wes-Kaap aangeteken, gevolg deur Mfuleni en Strand (36), Kraaifontein en Milnerton (35), Bellville (31), Goodwood en Parow (30).

Die meeste sake van diefstal vanuit of vanaf voertuie was in Kaapstad se middestad (646), gevolg deur Stellenbosch (267), Seepunt (225) en Bellville (170). In Kuilsrivier is 78 sulke diefstalle aangemeld (teenoor 80 in dieselfde kwartaal in 2023 en 100 in die vorige kwartaal).

Die Kuilsrivier-polisie het 199 voorvalle van eiendomsverwante misdaad in die drie maande aangeteken – aansienlik minder as die 243 gevalle in die vorige kwartaal, en 227 in 2023.

Die aantal inbrake by wonings (75) was minder as in 2023 (109) en in die vorige kwartaal (88).

Inbrake by nie-residensiële persele (24) was effe meer as ’n jaar tevore (20), maar minder as in die vorige kwartaal (33).

Die jongste syfers vir winkeldiefstal (37) in Kuilsrivier is minder as in 2023 (53) en effe meer as in die vorige kwartaal (33).

Polisie-optrede

Die sake wat plaaslik geregistreer is danksy polisie-optrede (225), was meer as in die ooreenstemmende tydperk in 2023 (211). Daar is 162 dwelmverwante sake (teenoor 155 in 2023) aangeteken, maar in die vorige kwartaal was daar 212.

Altesame 11 sake is aangeteken van die onwettige besit van ’n vuurwapen of ammunisie (drie in 2023, en sewe in die vorige kwartaal).

Die aantal sake wat aangeteken is vir bestuur onder die invloed van drank of dwelms (52) was soortgelyk as in 2023 (53) en die vorige kwartaal (52).

You need to be Logged In to leave a comment.