Die Monte Vista-woonbuurt is alomgewild onder filmmaatskappye wat dikwels daar hul tent opslaan om hul produksies te verfilm.

Plaaslike, sowel as internasionale films, is reeds in die verlede daar verfilm. Net verlede week is daar weer nuus met die gemeenskap gedeel dat nog ’n filmmaatskappy langs Giel Basson-rylaan (M12) – tussen Uys Krige-rylaan en Rothschild-boulevard – bedrywig gaan wees en dat van die strate in die omgewing gesluit sal word.

Tyrel Painczyk, voorsitter van die Monte Vista/Plattekloof Glen-belastingbetalers- en inwonersvereniging, sê as organisasie verwelkom hulle die filmbedryf.

Gesogte bestemming

“Monte Vista was, en ek glo sal altyd ’n gesogte bestemming vir die filmbedryf wees vanweë die uitleg van die gebied se strate en huise, wat goed vergelyk met dié van ’n Amerikaanse woonbuurt, veral die onderste deel van Visagiestraat,” sê Painczyk.

“Ons het al uitstekende verfilming in die woonbuurt sien plaasvind, en is altyd trots daarop om deel te kan wees van die bedryf.”

Hy sê met verfilming is daar altyd ’n paar ure van ontwrigting wanneer die kameras rol, en dat die organisasie nog altyd probeer het om nóú saam met die film-kantore en die produksiemaatskappye te werk om te verseker dat inwoners op hoogte gehou word. “Ongelukkig is dit nie altyd moontlik nie, omdat permitte soms ’n dag voor verfilming goedgekeur word.”

Painczyk sê as gemeenskap het hulle nog altyd die filmbedryf in die gebied verwelkom, aangesien dit nie net die gebied op die kaart plaas nie, maar ook verseker dat dié multimiljarddollarbedryf in Kaapstad floreer, dit werkskepping bevorder en ook sekuriteit bied aan almal wat daarby betrokke is.

Terugploeg

“Om ons gebied veilig en aantreklik te hou is nie ’n maklike taak nie, en selfs met ons raadslid Cheryl Visser en die Stad Kaapstad, wat ’n fantastiese werk doen, kos die LPR-kameranetwerk geld om in stand te hou.

“Ons het nog altyd die filmbedryf verwelkom, wat terugploeg in ons gemeenskap deur skenkings te maak aan dié kameranetwerk deur middel van die belastingbetalers- en inwonersvereniging,” sê Painczyk.

Hy sê hulle sal aanhou om die bedryf te verwelkom en dat hulle hoop om voortaan altyd ’n noue band met die filmmaatskappy te hê

You need to be Logged In to leave a comment.