Woedende
inwoners van Morningstar het vanoggend net ná 07:00 in ’n protesoptrede in spitstyd
die besige Langebergweg reg voor die ingang na Morningstar versper en
buitebande aan die brand gesteek.

Lede
van die Durbanville-polisie en Stad Kaapstad se Metropolisie het die pad aan
beide kante afgesper sodat geen verkeer deurgelaat kon word nie.

Die
inwoners, meeste van wie in wendyhuise in ander se agterplase woon –­
sogenaamde “backyarders” of agterplaasbewoners – is kwaad oor die sleutels vir
huise in die nuwe woonontwikkeling vandag aan altesame 19 nuwe huiseienaars
oorhandig sou word.

Hulle
is ontevrede met die toekenning van die huise en oor “mense van buite” nou
huise kry, terwyl inwoners van Morningstar, wat volgens hulle al jare op die
waglys is, nie vir huise in aanmerking gekom het nie. Dié R34,2miljoen-projek
om 166 nuwe huise te bou, is onlangs voltooi en die eerste huise sou vandag
oorhandig word. Volgens ‘n SMS wat aan begunstiges gestuur is, sou 20 mense
elke week hierna hul nuwe huise ontvang het.

Die
agterplaasbewoners is ook daarteen gekant dat plaaswerkers van omringende plase
ook onder die begunstigdes is.

’n
Groep plaaswerkers wat ook daar in Langebergweg gestaan het,  was onder
die indruk dat hulle ook vanoggend huise sou kry nadat hulle ’n SMS
daaroor ontvang het. TygerBurger het egter self die SMS gelees en dit lig
mense net in dat 19 huise oorhandig gaan word, maar nie dat hulle spesifiek
vandag die begunstigdes daarvan is nie.

Talle
inwoners, ook dié wat wel hul eie huise het, het nog in hul kamerjasse met
koffiebeker in die hand, die ander kom ondersteun.

Die
situasie is omstreeks 11:00 ontlont toe Gerhard Fourie, voorsitter van Subraad
7, daar opgedaag het en ‘n ooreenkoms met die mense aangegaan het dat geen
huise oorhandig sal word voordat die probleme rondom die toekenning van huise
nie  uitgestryk is nie.

Theresa
Uys, raadslid vir wyk 112, wat Morningstar insluit, woon tans in Johannesburg
‘n konferensie by.  Sy het aan TygerBurger laat weet dat die
oorhandiging van die huise uitgestel is en dat die Stad besig is om ’n interdik
te bekom teen die organiseerders van die protesoptrede.

Teen
12:00 was die pad weer oop vir verkeer. Die pad is skynbaar nie beskadig nie.
Klein groepies mense het nog daar rondgestaan.

Kapt.
Marchell Rhode, woordvoerder van die Durbanville-polisie, het gesê die protes
deur die inwoners was “eintlik vreedsaam”. “Geen eiendom is beskadig en niemand
is in hegtenis geneem nie,” het hy bevestig.

You need to be Logged In to leave a comment.