’n Regte egte Kaapse koesister en ’n “curry bunny” het die internasionale model Eugon McNeil van Kraaifontein laat besef dat hy ná ’n afwesigheid van drie jaar nou by die huis is.
“Dit was ’n emosionele oomblik toe ek uit Amerika op Kaapstad Internasionale Lughawe land en in my ma, Edwina Ontong-Titus, se arms kon instap. Al die struikelblokke, soos die Covid-19-pandemie, geen vlugte na en van SA uit enige land nie en my visum wat verval het, was skoon vergete. Ek het net die oomblik met my ma en ander familielede wat my kom verwelkom het, ingedrink,” sê McNeil.
Covid-19 het sy loopbaan as model tot stilstand laat kom, want hy kon nêrens heen vlieg om modelleerwerk of klere-advertensies te doen nie en het besluit om verder te studeer om die tyd nuttig te gebruik.
“Om te studeer, was nogal ’n aanpassing, want ek was gewoond om oral oor die wêreld heen te vlieg. Dieselfde dissipline wat ek as model toegepas het, het ek vir my studies gebruik. Wat dinge ook nog moeilik gemaak het, was dat ek in September 2019 laas by die huis was met die geboorte van my tweeling-boeties, Liam en Levi. Ek het al die belangrike mylpale in hul lewe, soos die eerste tree, eerste tand en eerste woord, gemis, hoewel ons gereeld via tegnologie gekommunikeer het.
“Toe ek op 24 Januarie geland het, was hulle vas aan die slaap en ek kon nie wag om van aangesig tot aangesig met hulle te gesels nie. Hulle stap deesdae die wêreld vol en is vol sêgoed. Die volgende oggend het hulle my ma gevra wie ek is, want hulle sien my mos net via tegnologie en dit het baie oorreding van my kant gekos om hulle te oortuig dis regtig ek,” sê McNeil.
Hy het die afgelope maand tussen Kraaifontein en Worcester, waar sy ma-hulle woon, gependel en het net weer alles omtrent Kaapstad en die omgewing ingeneem en waardeer.
“Die eerste aand het ek load shedding ondervind terwyl ek nog besig was met aanlyn klasse. Daar is ’n tydsverskil van agt ure tussen SA en Amerika. Dit was frustrerend, maar ook nostalgies. Dit het my teruggeneem na die dae toe die krag ook af was in my skooldae dertien jaar gelede en ons kerse moes brand. Ek het gou geleer om maar met die stroom saam te swem.
“My eerste versoek aan my familie en vriende was dat ons Afrikaans moet praat, want ek wou my Afrikaans ’n bietjie opknap. Dit was nogal vir hulle snaaks dat ek nou so ’n mengelmoes van Engels en Afrikaans praat, maar ons het mos hier in die Kaap daarmee grootgeword, al is my Afrikaaps nou nie op standaard nie,” skerts hy.
McNeil het Donderdag 24 Februarie teruggevlieg New York toe, want hy moet sy graad voltooi en het ook weer aanbiedinge gekry om modelwerk te doen.
“Ek is bly vir die geleentheid om weer modelwerk te doen, maar my studies is my eerste prioriteit. Ek sal hopelik nou weer gereeld huis toe kan kom, want ek het baie goed wat ek hier saam met my boeties en familie wil doen. Maar nou is dit eers terug na die werklikheid van model wees en om my studies te voltooi,” sê hy.


