Foto van Armand Groenewald, Mnr. Doof SA-finalis vir 2025/26, by Faheem Karodia, die huidige Mnr. Doof SA.
Armand Groenewald, Mnr. Doof SA-finalis vir 2025/26, by Faheem Karodia, die huidige Mnr. Doof SA.

Met sy deelname aan Mnr. Doof SA wil Armand Groenewald (42) van Klipdam, Kuilsrivier, wys dat dowes groot hoogtes kan bereik.

Groenewald, wat sedert geboorte gehoorgestrem is, sê dit is vir hom ‘n eer om Kuilsrivier nasionaal te verteenwoordig.

“My ma het tydens haar swangerskap in ’n klerewinkel gewerk. ’n Kollega daar het Duitse masels (Rubella) gehad en my ma het ook siek geword.”

Wanneer swanger vroue die Rubella-virus gedurende die eerste trimester opdoen, kan dit lei tot ernstige geboortedefekte. Dit staan bekend as aangebore rubella-sindroom (CRS), wat onder meer die baba se gehoor kan aantas.

Ervaring

Op ‘n vraag oor mense wat skepties is oor inentings (wat as doeltreffend teen die Rubella-virus bewys is), sê Groenewald hy kan net uit sy persoonlike ervaring praat.

“In my geval het die Duitse Masels tydens my ma se swangerskap ’n groot impak op my lewe gehad. Ek verstaan dus hoe belangrik dit kan wees om sekere siektes te voorkom.

“Ek glo elke mense – en ouer – moet altyd met hul dokter of gesondheidswerker praat om die beste, ingeligte besluit vir hul eie gesin te neem. Ek respekteer dat mense verskillende sienings het, maar my ervaring wys vir my hoe ernstig die gevolge van hierdie siekte kan wees.”

Hy was van kleins af hardhorend en het twee gehoorapparate gedra. “Ek kon hoor en praat,” sê Groenewald.

Deur die jare het hy verskeie skole vir dowes en hardhorendes bygewoon: Carel du Toit (Tygerberg), De La Bat (Worcester), Sonitus en Transoranje (beide in Pretoria).

“Toe ek 40 geword het, het ek die gehoor in my linkeroor verloor en besluit om ’n kogleêre inplanting te kry. Dit het my baie gehelp en my lewe verbeter.”

Hy geniet dit om na musiek te luister en sing graag saam —”veral gospel, want dit gee my hoop.”

Foto van Armand Groenewald, Mnr. Doof SA-finalis.
Armand Groenewald, Mnr. Doof SA-finalis.

Geleenthede

Die besluit om deel te neem aan Mnr. Doof SA 2025/26 gaan vir hom daaroor om groter bewusmaking vir dowes in Suid-Afrika te skep.

“Ek wil wys dat dowe mense talent het en groot dinge kan bereik.”

Hy wil graag ander inspireer en help om stereotipes om die dowe gemeenskap af te breek. Die kompetisie bied ook die geleentheid vir persoonlike groei.

Hoewel hy tans werkloos is, pak hy klein projekte aan soos sosialemediabemarking en die skep van motiverende inhoud. “Ek is aktief op soek na nuwe geleenthede,” sê hy.

Publisiteitsweek

Groenewald is tans ook besig met ‘n geldinsameling vir die kompetisie.

Die Mnr. Doof SA-kompetisie word aangebied deur Miss, Mr & Mrs Deaf South Africa (MDSA), ‘n onafhanklike organisasie sonder winsoogmerk, wat in 1995 gestig is vir die bemagtiging van dowes.

Die kompetisie begin jaarliks met oudisies en benoemings, waarna die finaliste aangewys word. Die wenner sal ná afloop van die publisiteitsweek, wat in Maart volgende jaar plaasvind, by ‘n glansgeleentheid aangewys word.

Die finaliste word tydens die publisiteitsweek op hul persoonlikheid, selfvertroue, leierskap en kommunikasie beoordeel. Hulle neem ook deel aan liefdadigheidsprojekte en geldinsameling as deel van die beoordelingsproses.

Kostes

Elke finalis word aangemoedig om minstens R3000 in te samel om verblyf, kos en ander uitgawes tydens die publisiteitsweek te dek. Enige bedrag meer as R3000 kan aangewend word om hul reiskoste na Gauteng te dek.

Buiten geldelike bydraes kan sakeondernemings ook ‘n produk of diens aanbied, waarmee die finalis geld kan insamel.

* SMS “MDS12”na 47439 (R3 per SMS) om vir Groenewald te stem (stemproses is oop tot Februarie)

Bydraes vir Groenewald kan gedoen word by https://www.backabuddy.co.za/campaign/armand-groenewald-mdsa-journey.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article