Misdaadsyfers in Kuilsrivier: 16 motorkapings binne drie maande

Altesaam 16 voertuigkapings is in die drie maande van 1 Julie tot 30 September vanjaar by die Kuilsrivier-polisie aangemeld.


Altesaam 16 voertuigkapings is in die drie maande van 1 Julie tot 30 September vanjaar by die Kuilsrivier-polisie aangemeld.

Volgens die jongste misdaadsyfers wat verlede week deur die polisie bekendgemaak is, was daar plaaslik meer voorvalle van kontakmisdaad (misdaad teen ’n persoon), eiendoms-verwante misdaad (waaronder inbrake), handelsmisdaad en ontvoerings.

Kontakmisdaad

Altesaam 350 sake van kontakmisdaad – wat moord, poging tot moord, seksuele oortredings, aanrandings en roof insluit – is in dié tydperk by die Kuilsrivier-polisie aangemeld.

In vergelyking met die ooreenstemmende kwartaal verlede jaar is meer pogings tot moord (21 gevalle teenoor 12); meer gewone aanrandings (137 teenoor 118) en meer ernstige gevalle van roof (102 teenoor 94), aangemeld.

Die aantal moorde (4) en verkragtings (10) was dieselfde as ’n jaar gelede terwyl 10 minder aanrandings met die doel om ernstig te beseer (32) aangemeld is.

Daar is 12 rooftogte by wonings en twee by nie-residensiële persele aangeteken.

Die 16 voertuigkapings is ’n skerp toename vanaf sewe voorvalle wat in die ooreenstemmende kwartaal ’n jaar gelede, en nege wat in die voorafgaande kwartaal (1 April tot 30 Junie) vanjaar, aangeteken is.

Volgens die jongste misdaadsyfers was daar 16 voertuigkapings in Kuilsrivier tussen 1 Julie en 30 September. FOTO: Ter illustrasie

AO Liesel Beukes, plaaslike polisiewoordvoerder, sê die kapings het wydverspreid voorgekom. “Daar is geen spesifieke gebiede wat uitgesonder kan word nie. Ons moedig mense aan om te alle tye bewus te wees van wat in die omgewing rondom hulle aangaan.”

Daar is geen vragmotorkapings aangemeld nie (teenoor een ’n jaar gelede en een in die vorige kwartaal).

Tussen Julie en September is een voorval van menseroof plaaslik aangeteken.

Daar was ses ontvoerings in Kuilsrivier teenoor een ’n jaar gelede en vyf in die vorige kwartaal.

Gauteng het ’n skokkende 2 498 ontvoerings in die kwartaal aangeteken, Kwazulu-Natal 847, en die Wes-Kaap 318.

Die meeste ontvoerings in die Wes-Kaap was in Mfuleni (28).

Handelsmisdaad

Plaaslik is 22 voertuigdiefstalle by die polisie aangemeld. Stellenbosch (57) het die meeste voertuigdiefstalle in die Wes-Kaap aangeteken, gevolg deur Somerset-Wes (46), Parow (44) en Bellville (40).

Die meeste sake van diefstal vanuit of vanaf voertuie was in Kaapstad se middestad (652), gevolg deur Stellenbosch (375) en Bellville (205). In Kuilsrivier is 100 sulke diefstalle aangemeld (teenoor 65 ’n jaar gelede) terwyl Brackenfell 59 voorvalle aangeteken het.

Die Kuilsrivier-polisie het 243 voorvalle van eiendoms-verwante misdaad in die drie maande aangeteken (die 11de meeste in die Wes-Kaap).

Die aantal inbrake by wonings (88) was wel minder as ’n jaar gelede (103) sowel as in die vorige kwartaal (107).

Inbrake by nie-residensiële persele (33) was effe meer as ’n jaar gelede (26) en dubbeld soveel as in die vorige kwartaal (15).

Dit blyk dat handelsmisdaad (bedrog) aansienlik toegeneem het in Kuilsrivier.

In die tydperk is 140 sake van handelsmisdaad plaaslik aangeteken (teenoor 94 ’n jaar gelede). In die vorige kwartaal (April tot Junie) was daar 128 sake wat ook aansienlik meer was as in die ooreenstemmende kwartaal verlede jaar (85). Naburige Brackenfell het 225 handelsmisdade aangeteken – tweede meeste in die Wes-Kaap ná Kaapstad-sentraal (354).

Die jongste syfers vir winkeldiefstal (30) in Kuilsrivier is minder as ’n jaar gelede (68) en as in die vorige kwartaal (55).

Polisie-optrede

Die sake wat plaaslik geregistreer is danksy polisie-optrede dui op gemengde welslae.

Soos in die ooreenstemmende tydperk ’n jaar gelede was daar 212 dwelmverwante sake aangeteken, maar in die vorige kwartaal is 253 sake aangeteken.

Sewe sake is aangeteken vir die onwettige besit van ’n vuurwapen of ammunisie (een ’n jaar gelede en ses in die vorige kwartaal).

Die aantal sake wat aangeteken is vir bestuur onder die invloed van drank of dwelms (42) was minder as ’n jaar gelede (60) en in die vorige kwartaal (52).

Met die oog op die feestyd versoek die Kuilsrivier-polisie mense om deeglik seker te maak alle deure is gesluit, die vensters is toe en die alarm is aangeskakel wanneer jy jou huis verlaat.

“Wees deurentyd versigtig en bewus van wat om jou aangaan op pad bank toe en terug – veral wanneer groot bedrae kontant getrek word,” sê Beukes.

You need to be Logged In to leave a comment.