Die Wes-Kaap het weer sy naam gestand gedoen as die misdaadhoofstad van die land nadat die polisie onlangs die misdaadstatistieke bekend gemaak het.
Sodanig is die misdaadprobleem dat die polisieminister, Senzo Mchunu, sy kommer uitgespreek het.
Kontakmisdade het met 2,6% toegeneem, terwyl verkragting met 0,6% gestyg het. Dit verteenwoordig ’n styging van 9 252 tot 9 309.
Tydens sy toespraak het Mchunu die statistieke as “ontnugterend” beskryf.
“Hierdie is ’n bewys van hoe groot die uitdaging is wat ons in die gesig staar. Die statistieke verteenwoordig meer as net syfers op papier, dit reflekteer die realiteite van ons mense,” sê hy.
Intussen het Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, die Wes-Kaapse minister van polisietoesig en gemeenskapsveiligheid, die nasionale regering en Stad Kaapstad Vrydag ’n samewerkingsooreenkoms onderteken.
Winde sê in ’n verklaring die ooreenkoms is ’n stap vorentoe met samewerkende polisiëring wat op data en bewyse gebaseer is.
“Die Wes-Kaapse regering se plan om misdaad te pak is in ons veiligheidsplan vervat. My opregte hoop is dat die ooreenkoms daartoe sal lei dat die polisie in die provinsie die nodige ondersteuning kry om hul werk effektief te doen en gemeenskappe te beveilig. Ons moet uit die verlede leer en gedurig polisiemodelle herbesoek,” sê Winde.
Volgens hom gaan die samewerking onder meer insluit dat ’n plan vir ’n veilige stad daargestel word, verhoudings verbeter word, infrastruktuur om misdaad te bekamp verbeter word.
“Hierdie ooreenkoms gaan deur ’n implementeringsooreenkoms gevolg word, wat gaan bepaal hoe goed prakties uitgevoer kan word,” sê hy.
Marais het op haar beurt gesê die ooreenkoms is ’n prioriteit vir die provinsiale regering.
“In die verlede was die verhouding tussen die verskillende sfere van regering meer konfronterend as samewerkend. Ek wil JP Smith bedank vir sy geveg teen misdaad en ook minister Mchunu dat hy gewillig is om ’n nuwe bladsy van samewerking om te slaan ten einde die gemeenskap te dien,” sê Marais.


