Misdaadstatistiek toon meer diefstal uit voertuie aangemeld

Die Kuilsrivier-polisie het die afgelope tyd ’n toename in voorvalle van diefstal uit motorvoertuie ervaar.


Die Kuilsrivier-polisie het die afgelope tyd ’n toename in voorvalle van diefstal uit motorvoertuie ervaar.

AO David Solomons, operasionele bevelvoerder van die Kuilsrivier-polisie, sê die diefstal gebeur veral op weeksdae tussen 15:00 en 19:00.

“Dit lyk asof dit mense is wat van die werk af kom en op pad huis toe gou by ’n winkel stop. Alles gebeur vinnig.”

Dit is veral selfone, skootrekenaars en sakke wat oop en bloot in voertuie gelos word, wat ’n geleentheid skep vir misdadigers, sê hy.

”Maak seker die voertuig is gesluit en daar is geen waardevolle artikels binne sig nie. Sit dit eerder in die bagasiebak.”

Solomons sê bystand van die buurtwagte en die Stad Kaapstad se veiligheidsambassadeurs help die polisie in hul poging om misdaad te bekamp. “In die algemeen lyk misdaad in Kuilsrivier nie te sleg nie, volgens die statistieke.“

Die kontrak vir die veiligheidsambassadeurs is tans opgeskort, maar Solomons sê dit gaan hopelik binnekort hervat word.

Die veiligheidsambassadeurs is ’n projek van die Stad en die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveiligheid, wat werklose vrywilligers in diens neem om gebiede te patrolleer.

Solomons sê sakeondernemings in die middedorp het goeie terugvoer gegee oor die diens wat die ambassadeurs verrig.

“Hulle patrolleer die sakekern in die besige tye. Van ons, die polisie, se kant probeer ons dit so ver moontlik koördineer. Sers. Pieter du Toit is die koördineerder tussen die polisie en die veiligheidsambassadeurs. As hulle enige bystand verlang, gee ons aandag. Hulle is net die oë en ore, en nie daar om in hegtenis te neem of dit te fasiliteer nie.”

Solomons sê mense moet eerder die 10111 nommer skakel as hulle die polisie se hulp benodig omdat hulle so vinniger gehelp sal word. “Dit gebeur al hoe meer dat mense polisiebeamptes op hul selfone bel. Dan moet die beampte eers beheer skakel en hulle weer die voertuie – dit gee ’n hele kettingreaksie af. As jy 10111 skakel, kan die klagte direk aan die voertuie deurgegee word.”

You need to be Logged In to leave a comment.