Voetgangers, veral leerders van die Laerskool Vredelust en die Hoërskool Settlers, wat daagliks die besige Mike Pienaar-boulevard in Boston oorsteek, kon die week ná maande se wag weer die voetbrug gebruik.
‘n Besorgde inwoner in die gebied, Jacobus Jonker, het Vrydag (9 Mei) die Stad Kaapstad se werkspan by die voetgangerbrug gewaar om die beplande herstelwerk voort te sit.
Herstelwerk aan die voetbrug sou na verwagting tussen Maandag 24 Maart en Vrydag 9 Mei plaasvind (“Voetbrug heropen eers in Mei“, TygerBurger, 19 Maart).
Veiligheid
Die voetbrug is om veiligheidsredes deur die Stad se direktoraat vir stedelike mobiliteit gesluit tot tydelike herstelwerk aan die brug voltooi sou word.

Met TygerBurger se besoek gister (Dinsdag 13 Mei) was die ingangspunte van die brug aan beide kante met nuwe staalwerk beveilig. Die brug was ook weer oop vir voetgangers.
By navraag het Rob Quintas, burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, verseker die herstelwerk aan die voetgangerbrug vorm deel van die voortgesette Bostonweg-herseëlingsprojek.
Jonker het die afgelope maande die stand van sake by Mike Pienaar dopgehou. Hy het in April die TygerBurger laat weet dit blyk egter of daar nog geen herstelwerk aan die brug gedoen is nie.
“En daar is ook geen padwerk aan Boston-weg gesien nie. Ek en my vrou stap elke dag met ons honde in die buurt. Die voetbrug lyk nog presies dieselfde en geen daadwerklike herstelwerk is gedoen nie. Dit is uiters frustrerend om te dink aan die leerders wat elke dag die gevaarlike pad moet aandurf om by die skool te kom,” het hy verlede week gesê.
Dié afgetrede onderwyser wat 32 jaar by Settlers skoolgegee het, sê Vredelust-leerders kon in al die tyd wat die brug gesluit was, nie sport beoefen nie. “Die leerders by die skool kan al maande lank nie sport doen omdat dit te gevaarlik vir die spanne is om die pad na Settlers se sportvelde, waarvan hulle afhanklik is, oor te steek.”
Louisa Hall, skoolhoof van Settlers, het Vrydagoggend by navraag gesê haar grootste kommer bly die kinders se veiligheid. “Daar is nie ‘n formele voetoorgang by enige verkeersligte weerskante van Mike Pienaar-boulevard se voetbrug nie. In die somermaande is dit darem nog lig genoeg vir leerders om die besige pad te durf oorsteek, maar nou in die winter is die pad soggens pikdonker.”
‘Staalwerk word buite terrein gedoen’
In reaksie op verdere navrae bevestig Quintas dat die werk reeds aan die gang is en installasies die afgelope naweek sou plaasvind.
“Dele van die werk, soos die voorbereiding van materiaal en staalwerk, word buite die terrein gedoen.”
Hy het gesê die tydelike herstelwerk aan die brug sou teen gister voltooi wees.
You must be logged in to post a comment.